Bergrivier
Terug na hoofblad

Wedvlugkampioen se lewe draai om duiwe

Alida Buckle

VELDDRIF – Dit is duidelik dat die liefde tussen wedvlugkampioen Keith de Vos (68) en sy duiwe wedersyds is. Hulle antwoord as hy nes hulle koer en raak duidelik opgewonde as hy die hok binnekom. De Vos is al ‘n geruime tyd die Velddrif-posduifklub se kampioen.

Met die onlangse heengaan van sy geliefde vrou, Anne, is dit sy duiweboerdery wat hom aan die gang hou. Hulle het die duiwe saam gedoen, altyd onder die naam Keith én Anne de Vos gevlieg, soos wat hy vanjaar gaan aanhou doen, “in her memory”.

In die netjiese ruim huis in Port Owen, vertel De Vos dat hy al 45 jaar lank teel aan sy versameling kampioenduiwe. Hy het nagenoeg 80 vlugduiwe en 45 duiwe wat broei.

As 14-jarige kind in Plumstead, Kaapstad, het hy altyd sy pa gehelp om sy duiwehokke skoon te maak en dáár het die gogga hom gebyt. “Ek het eers self begin vlieg nadat ek getroud is en ‘n huis van my eie gehad het. En, nadat ek en my vrou dit bespreek het.”

Die sport het baie deur die jare verander, veral op tegnologiese gebied. “In die ou dae het ons met handklokke gewerk, deesdae werk ons met elektroniese klokke en ringe.”

De Vos het entoesiasties gaan wys hoe die toestelletjie werk wat elke duif wat inkom en oor die elektroniese plaat loop, se besonderhede aandui. Besonderhede soos die datum die presiese tyd, die duif se gewig, ouderdom en nommer verskyn terselfdertyd ook op De Vos se rekenaar.

Wanneer die wedvlugte in Junie begin gaan De Vos, soos al die ander wedvlugdeelnemers, elke Vrydag 10 jong duiwe (‘n jaar oud) en 10 duiwe in die ope-afdeling (enige ouderdom) in mandjies pak om op ‘n gegewe dorp ver hiervandaan losgelaat te word.

De Vos sit by ‘n tafeltjie wat uitkyk op die duiwehokke, sodat hy kan sien as hulle begin terugkom en bo sy buurt draai. Sy truuk om hulle gouer te laat inklok is om sy twee mak duiwe, waarvan die vlerke geknip is, die lug in te gooi. “Sodra die wedvlugduiwe hulle sien, sien hulle vinniger die hok raak.”

Duiwe ouer as drie tot vier jaar word gewoonlik nie meer laat vlieg nie, maar eerder gebruik om mee te teel. De Vos glo nie daaraan om duiwe te verkoop nie, maar sal hulle eerder vir beginners gee wat hulp nodig het.

De Vos glo daaraan om van die meesters te leer, die ouens aan die top van die lys.

Soos wat hy ook vir jong wedvlug-entoesiaste leer.

Wat sy duiwe kampioene hou is goeie kos, goeie gesondheid, die regte oefenprogram en die gehalte van die duif self.

“As jy kwaliteit duiwe het wat uit ‘n familie – ma en pa, tantes en ooms, van wenners kom, sal jy baie wenners onder hulle hê. Daar is ‘n kuns aan die uitkies van ‘n duif, waarvoor ek ‘n gawe gekry het. As kind het ek my oorlede pa gevra waarom sekere soort duiwe elke jaar aan die top van die unies was. Hy het vir my gesê dat dit so is omdat daardie mense duiwe-wedvlugte baie ernstig opneem en ek wou een van daai mense wees.”

De Vos glo ook in streng dissipline met sy duiwe.

Hulle kry elke dag op dieselfde tyd kos en hy hou hulle goed genoeg dop en weet dadelik as een medikasie of vitamiene-aanvullings nodig het.

As ‘n duif pronk en sy oog probeer vang, weet hy dat sy of hy reg is vir vlieg.

Net so beïnvloed die duiweboer se bui die duiwe.

“Hulle voel aan as jy nie in ‘n goeie bui is nie. Wees ontspanne en hulle sal ontspan.

"Praat met hulle, dit is deel van my suksesresep.”

•        De Vos het in 2013 in die Weskus kom aftree ná 35 jaar as meganiese ingenieur by Transnet in Garsfontein, Pretoria.

•        Die Velddrif-duiweklub val onder die nuwe Weskus-duiwe-unie van die Suid-Afrikaanse Nasionale Posduiforganisasie (Sanpo).

Sy help seer harte gesond word

Cilla Meintjes van Jacobsbaai.

• Alida Buckle

JACOBSBAAI – Cilla Meintjes is een van daai mense wat jou dadelik op jou gemak stel, dadelik laat tuis voel en haar opregte belangstelling in mense en wat in hulle harte omgaan, straal soos ‘n warm vuur uit haar uit.

Sy het ‘n gastehuis en skilder, maar haar eintlike passie is mense. Om moedeloses weer die Lig te laat sien en weer te laat hoop op ‘n toekoms.

Met haar welstandterapie help sy uitsigloses om weer perspektief oor hul situasie te kry.

Sy bring gereeld kunsterapie by, om mense wat sukkel om te praat, te help om uiting aan hul gevoelens te gee.

“’n Mens lees ongelooflik baie in iemand te prente.”

Haar geheim?

"Geen snaakse new age dinge nie, net straightforward volgens die Bybel. Ek is slegs bruikbaar as 'n instrument in die hande van die Vader.”

Sonder om name te noem of identiteite weg te gee, vertel sy van mense wat sy kon help het met krisisse in hul huwelik, identiteit, geloof en vele ander.

En, sy eïen geensins vir  haarself  die eer toe nie, maar glo dat alles deur die Here se wil gelei word.

“Die wortel van wat met mense gebeur, hoekom en hoe hulle besluite neem, kom van geboorte af. Sekere goed gebeur met jou in jou lewe, soos ‘n pa wat ‘n kleuter pakgee wat van ‘n fiets afval.

“So ‘n voorval veroorsaak trauma by ‘n jong kind. ‘n Mens moet dáár begin om weer die persoon se lewe te herbou.”

Sy verwys ook na ouers se kritiek wat veroorsaak dat kinders hulself druk om te presteer en dan as grootmense in mekaar tuimel as hulle hul werk verloor of nie “goed genoeg” presteer nie.

“Hul verwysingsraamwerk het geword: ‘Wat sal die mense sê?’ Hulle raak perfeksioniste, en perfeksioniste verloor hulself baie keer in hul loopbaan.”

Cilla sien haar lewensroeping om mense van brose porseleinpoppe te help herbou tot mense wat die lewe in die oë kan kyk.

Sy nudge mense, dwing hulle nie. Sy het geleer om liggaamshouding baie fyn dop te hou.

“Ek kan net vir mense kyk, dan weet ek waar hulle is, want die Here gee my die gawe.”

Cilla glo dat die mense wat uiteindelik oor haar drumpel stap, deur God gestuur is.

Wanneer dit nie die geval is nie, loop mense gewoonlik gou-gou.

Gebed en gehoorsaamheid aan die Woord hou haar staande. Soms raak mense se omstandighede haar só, dat sy intens saamhuil.

“Ek is so gekoppel aan die Here. Hy gee my insight.”

Sy volg ‘n basiese “resep”, maar die Here wys baie keer vir haar dat sy met iemand op ‘n ander manier moet werk.

“Jou ore is soos asblikke. Jy moet dit ná ‘n beradingsessie gaan uitwas. Jy moet jou psige skoon kry en dit is waarom ek begin skilder het. Om dit wat ek in my sessies hoor, uit my lyf te kry.”

’n Groot groep mense doen voorbidding vir haar werk.

“Die amazingste ding van alles is dat elke keer wat ek met iemand werk, God ook met my werk aan goed wat ék nog nie verwerk het nie. Dis die hele tyd ‘n skoonmaakproses.”

Cilla kom uit ‘n agtergrond van menslike hulpbronne en massa-indiensname projekte. Sy het destyds by Lifeline in Richardsbaai vyftien weke opleiding as berader gekry.

Later het sy beraders opgelei.

Sy is in Virginia in die Vrystaat gebore en het ses jaar gelede het sy haar hart op Jacobsbaai verloor en hierheen getrek.

WK se ekonomie staan sterk

Sprekers by Velddrif-sakekamer se inligtingsessie was voor van links Sandra Crafford, Yvette Odendaal, Abigail Murray; agter staan Tilman von Zukowski, Elmondo Paulse, voorsitter Chris van Niekerk en Cornelis de Waal.

Alida Buckle

VELDDRIF – Indien die Wes-Kaap ‘n land op sy eie was, sou sy ekonomie as die sewende grootste in Afrika getel het. Só het Cornelis de Waal, hoofnavorsingsbeampte by Wesgro, in sy oorsig oor die Wes-Kaapse ekonomie gesê, tydens die Velddrif-sakekamer-inligtingsessie by die Riviera Hotel op Donderdag 17 Mei. Wesgro is die Wes-Kaapse handelsbevorderingsagentskap.

De Waal het voorts gesê dat die ekonomiese uitset van die Wes-Kaap meer is as lande soos Kenia, Ethiopië en Ghana. In die Weskus is Saldanhabaai volgens De Waal die munisipaliteit wat die grootste ekonomiese bydrae lewer, gevolg deur Swartland en dan Bergrivier. Die grootste handelsvennote is Afrika (40%), Europa (30%) en die dan res.

“Die Wes-Kaap verbou 53% van die land se landbouprodukte, 42% van alle waardetoegevoegte landbouprodukte and 70% van die land se dranke.”

Onderburgemeester Sandra Crafford het haar opgewondeheid uitgespreek oor die moontlikhede wat die Saldanhabaai-nywerheidsonwikkelingsone (SBIDZ) en gepaardgaande projekte vir Velddrif as ‘n dorp inhou.

Abigail Murray, wat namens die SBIDZ met kliënte skakel, het ‘n oorsig gegee van huidige en toekomstige ontwikkelinge. Sy het sakeondernemings aangemoedig om by GrowNet aan te sluit en die registrasieproses vir die SBIDZ te deurloop om sodoende as verskaffer of diensleweraar te kan werk kry.

Elmondo Paulse, plaaslike ondernemings en verskaffersontwikkelingsbestuurder van Transnet, het sakeondernemings aangemoedig om hul swartbemagtigingsyfers reg te kry sodat hulle werk by die staatsprojekte, soos die SBIDZ, kan kry. Daar is 3.5 biljoen rand daarvoor bewillig. “Dit is ongelukkig ‘n feit dat slegs maatskappye met ‘n 51% swart eienaarskap werk by die staat gaan kry,” het Paulse gesê.

Yvette Odendaal, toerismebeampte vir die Bergrivier-toerismeorganisasie het bekendgestel dat Velddrif een van die dae toeriste en inwoners in klein sonaangedrewe driewielvoertuie gaan rondkarwei.

Een van die groot klagtes oor Velddrif, sê sy, is altyd dat toeriste nie openbare vervoer het nie. Velddrif het ‘n groot tekort aan konferensiegeriewe, verblyfgeriewe spesifiek ingerig vir gestremde mense en opgeleide werkers in die reis- en verblyfbedryf. Odendaal ervaar wel ‘n bestendige styging in mense wat in Velddrif wil kom woon.

Die nuwe sakekamer tesourier, Tilman von Zukowski, het teenwoordiges aangemoedig om by die sakekamer aan te sluit om sodoende groter blootstelling vir hul ondernemings te kry.

•        Vir meer inligting oor die SBIDZ, lees vorige berigte wat in dié courant Weskus verskyn het, aanlyn.

Polisie-adjunk wil ook plaaslike SAPD verbeter

SALDANHA – Bongani Mkongi, adjunkminister van die polisie, het tydens sy besoek aan Saldanha op Vrydag 18 Mei gesê dat biljoene gespandeer gaan word om 28 000 polisiebeamptes te bevorder om die moraal onder polisiebeamptes te probeer lig.

Hy het vroeër die oggend terugvoer aan polisiehoofde en ander hooggeplaasdes gegee oor sy besoek in Maart vanjaar, tydens ‘n vergadering by die Saldanha-polisiestasie.

Mkongi het ook ‘n paar misdaadryke plekke in Middelpos besoek, voordat hy die gemeenskap in die Dial Rocksaal toegespreek het. ‘n Groot groep polisielede was binne en buite sigbaar.

“Daar moet oorlog gevoer word, nie teen ons mense nie, maar teen die kriminele. Ons is die mense se polisie. Ons ammunisie moet gebruik word teen geharde misdadigers.”

Hy het ook gesê dat hy ‘n voorstander daarvan is dat polisielede na ander wêrelddele soos Rusland, Israel en Amerika gestuur moet word vir opleiding, sodat misdadigers vasgetrek kan word met minder konvensionele maniere.

Hy het ook ‘n beroep op vroue gedoen om hulself uit situasies van gesinsgeweld te verwyder, “voordat julle deel van ons statistieke word”.

Daar is ná die vergadering kospakkies uitgedeel.

Fotograwe kan nou wen met fotokompetisie

Fotograwe, jonk en oud, kan nou deelneem aan 'n opwindende nuwe kompetisie wat deur die Swartland Fotografieklub aangebied word.

Enige inwoner van die Swartland munisipale gebied asook Piketberg, Porterville, Hopefield, Gouda en Hermon kan een foto uit enige genre vir dié kompetisie inskryf.

Die Swartland Fotografieklub ondervind die laaste paar jaar 'n groei in ledetal en almal – jonk en oud - wat foto's neem is welkom om hul by die klub aan te sluit.

Die wenfoto sal vir die fotograaf 'n A1-grootte canvas-afdruk sowel as 'n jaar se gratis lidmaatskap tot die klub losslaan.

Die prys vir die tweede plek is 'n A2-grootte canvas-afdruk sowel as 'n jaar se gratis lidmaatskap en die derde plek is 'n geskenkbewys asook 'n jaar se gratis lidmaatskap.

Die kompetisie is vir gedrukte foto's.

Inskrywings vir die kompetisie – enige foto – moet in A3-grootte gedruk wees.

Deelnemers kan een foto inskryf.

Vir deelnemers wat self hul foto's laat druk, is die inskrywingsgeld R40 en die klub sal self die montering doen.

U kan die gedrukte foto's inskryf by Emunah Gallery 'n Arts in Malmesbury.

Die Gallery is toe op Maandae. Gedrukte foto's moet op fotopapier 170gm en dikker gedruk wees.

Deelnemers wat hul foto's elektronies wil inskryf, kan dit e-pos na die klub en die inskrywingsgeld is dan R80, waarna die klub dit sal laat druk.

Die elektroniese foto moet 'n resolusie van 300dpi hê en grootte tussen een en vier megagrepe wees.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is 8 Junie, waarna die beoordeling op 14 Junie in die keldersaal van die NG Gemeente Swartland-Noord op Malmesbury sal plaasvind.

'n Seleksie van die top-inskrywings sal later in Junie by Emunah op uitstalling wees.

Vir enige navrae of 'n inskrywingsvorm, kontak die organiseerders by marketing@swartlandphotoclub.co.za.

Jou Goeie Nuus - Gratis - Koerant met 'n Verskil in die Swartland - Ons dien en bou © die courant hou kopiereg op alle inhoud van hierdie webwerf en geen deel daarvan mag sonder die bestuur se toestemming gekopieer word nie.