Terug na hoofblad

Pionier palm prys in

Warren Bam, 'n kommersiële boer van organiese uitvoertafeldruiwe en boorling van die Swartlandse dorp Saron, is die naweek aangewys as Landbouskrywers Suid-Afrika se Nuwe Toetreder tot die Kommersiële Landbou by 'n spoggeleentheid in Bloemfontein.

Bam is verlede jaar tot die direksie van die SA Tafeldruifbedryfsliggaam (Sati) verkies.

Hoewel Warren hom in bemarkings- en verkoopsbestuur bekwaam het, het hy homself as suksesvolle boer bewys.

In 2014 het hy die Toyota New Harvest-eerbewys gewen en hy besit ‘n onderneming wat hy op huurgrond op die plaas Gunsteling bedryf.

Warren neem die afgelope paar jaar deel aan Sati se voorkeurkultivarprogram waardeur hy van die jongste kultivars kon bekom. Hy beplan nóg uitbreidings vir die nuwe seisoen.

Sy druiwe word deur Capespan uitgevoer, met omtrent 80% wat na Brittanje gestuur word. Die res gaan na die Europese Unie. Soos sy produksie toeneem, wil hy ook na Amerika uitvoer. Warren gebruik geldelike hulp van die Regering vir uitgebreide dienste, grondvoorbereiding, plantmateriaal, meganisasie, produksiemiddele en besproeiing.

Hy wil graag in die toekoms bloubessies aanplant om sy produksierisiko’s te versprei.

Hy wil ook verder op in die waardeketting betrokke raak met verwerking van landbouprodukte.

Sy hoop is om nog ‘n plaas in ‘n ander gebied te bekom, sodat hy sy produksietyd kan verleng en om veranderinge in die klimaat die hoof te bied.

Vir Bam is dit 'n voorreg om deur die landbouskrywers benoem te word vir die titel.

"Wanneer 'n mens op jou eie begin boer, is die primêre fokus eers om net weer die volgende jaar op die plaas te wees.

"Die gedagte van kompetisies wen, is nie eens deel van die verwysingsraamwerk nie," sê Bam.

Glenneis Kriel het hom vir dié toekenning benoem en die twee het mekaar nie ontmoet voor sy 'n onderhoud met hom gevoer het nie.

"Wys jou net, in vandag se lewe met al sy minder mooi dinge, is daar darem nog mense wat iets positiefs het om te sê van iemand anders en ek is nog so bevoorreg dat iemand dink dat ek goed genoeg is om my in te skryf vir die kompetisie," sê Bam beskeie.

Vir hom was dit 'n hoogtepunt om met bekendes in die landbou soos Rossouw Cillers van Ceres, Louis de Kock, Charl Senekal ('n mega-suikerrietboer) en ander swaargewigte te gesels.

"Charl Senekal het omtrent 'n halfuur met my gesels en ek het die heeltyd staan en wonder... Wie is ek dat hierdie groot manne tyd afknyp om met my te gesels?

"Dit maak my nederig om te dink dat ek wat van 'n klein plekkie af kom die voorreg het om met sulke groot name te kan gesels."

Vir Bam beteken die toekenning dat daar nog mense is wat geloof het in hul medemens.

"Hierdie toekenning beteken ook dat ek my spelpeil aansienlik moet lig om die eer gestand te doen. Dit beteken nie noodwendig harder werk nie, maar slimmer werk," sê Bam.

Bam en sy vennoot, Wessel van Niekerk, kyk daarna om later in tafeldruif-area te belê.

"Eers wil ons die plaas waarop ons boer, maksimaal benut. Ons het nog so 50 hektaar wat ons kan toemaak met tafeldruiwe, maar eers as ons waterverifikasies afgehandel is.

"Ek het tans sowat 28 hektaar tafeldruiwe vir myself. Oor twee jaar en met die genade van Bo, wil ek graag  33 tot 35 hektaar oes."

Bam boer tans op huurgrond en droom van sy eie grond.

"Ek sal ook graag met 'n ander gewas wil boer. My spesialiteit is tafeldruiwe en bloubessies, so die ander gewas sal sekerlik bloubessies wees. Al die planne is natuurlik onderhewig aan watersekerheid," sê Bam.

Boetiekbier proe nou pure Swartland

Die kleinskaalse boetiekbier-industrie in die Swartland en Wes-Kaap gaan voortaan kan voordeel trek uit plaaslike-verboude mout, danksy die innoverende insette van twee inwoners van die Riebeekvallei.

Coenraad Groenewald, knoffelboer op Grootverlangen tussen Hermon en Riebeek-Kasteel, en Rufaan de Bruyn, 'n toutoegang-optakelaar in die olie- en gasindustrie wat gedurende sy af-seisoene in die vallei woonagtig is, staan nou ook gesamentlik aan die hoof van die nuutgestigte Swartland Malthouse.

 Die idee vir die onderneming het voortgespruit uit gesprekke met Steve Miller, die eienaar van Garagista op Riebeek-Kasteel, wat eindelose frustrasie ervaar het met sy mout-verskaffers en die hoop uitgespreek het dat iemand hierdie bierbrou-produk plaaslik sou begin verbou. Na vele breinskrums het Groenewald en de Bruyn in 2015 aan die werk gespring en begin navorsing doen oor wat so 'n onderneming sou verg. As boerseun wat ook tydens sy universiteitsjare sy eie bier gebrou het, het Groenewald genoegsame agtergrond gehad; De Bruyn was weer op sy beurt in die verlede betrokke by 'n permakultuur-projek op Ladismith. As sulks het hulle nie die mout-projek as landbouer-groentjies aangepak nie.

 Swartland Malthouse, wat hierdie jaar hul eerste oesjaar suksesvol voltooi het, verbou tans mout afkomstig van nie-geneties gemodifiseerde twee-ry gars wat op die oewer van die Bergrivier gekweek word aan die hand van grootliks biodinamiese landboubeginsels. "Gars en wilde mosterd word aangeplant as wisselgewasse wat dan mettertyd in die grond teruggeploeg word as sogenaamde 'groenmis', maar dien ook ander belangrike doele. Die mosterd skei 'n klein hoeveelheid mosterdgas van die wortels af wat nadelige peste doodmaak, maar nie die mikrobiologie skaad nie. Die gars onderdruk die groei van ander bossies, verhoog die koolstofinhoud van die grond en verbeter ook die waterhouvermoë daarvan," verduidelik Groenewald.

 "Groot brouerye verbou hul mout teen 'n koers van 50 ton per baksel. Swartland Malthouse, daarenteen, verbou teen 'n koers van slegs 50 kilogram per baksel. Ons hanteer letterlik elke korrel met die hand. Dit laat ons toe om die mout te ontwikkel tot die spesifikasies van elke individuele brouer. Tans het ons twee tipes produkte - 'n basismout, waaruit alkohol ontwikkel, en drie spesialiteitsmoute (Swartland Sunset, Rooibaard, en Little John), wat bydra tot die kleur en geur van 'n bier. Ons eerste aankoper is Garagista, wat nou Swartland Malthouse-mout in onder meer hul Route 46-bier gebruik. Met ons produksie-kapasiteit en gesonde groeikurwe sal enige boetiekbier-

vervaardiger ons in die toekoms kan nader om vir hulle 'n doelontwerpte spesialiteitsmout te ontwikkel tot hul spesifikasies," sê de Bruyn.

Steenkamp bedink sy eie waterplan

Cassie Steenkamp van Darling het besef dat hy daadwerklik 'n plan moet beraam om te verseker dat daar genoegsame water by sy huis is.

Steenkamp het 'n stelsel vir sy huis ontwerp waar alle moontlike water wat in die huis gebruik word, gefiltreer en weer elders gebruik kan word.

Die stelsel het 'n 17 000 liter-opgaarvermoë van grys- en reënwater.

Die totale dakoppervlak se reënwater word herlei na die opgaartenke.

Die water van die huis se storte, wasbakke en wasmasjien versamel in 'n opvangsput. Wanneer dié put vol is, skakel 'n pompie aan wat die water oorpomp na 'n sediment-vleiland-filtertenk.

In dié tenk sak die groot deeltjies na onder en vleilandplante se wortelstelsels onttrek die swaaremente uit die water.

'n Borrelpomp voorsien suurstof aan die water en bevorder die vleilandplante se wortelgroei.

Mikrobes word in die water gevoeg wat verder die vleilandfiltreerproses ondersteun en ook gebruik word om enige reuke af te breek.

Wanneer die filtertenk vol is, loop dit deur nog twee verdere filtreringsprosesse, voor die gryswater in die opgaartenks gestort word.

'n Klein 12 volt son-aangedrewe-pompie skakel aan wanneer 'n toilet in die huis gespoel word en vul dan die toilet met gefiltreerde gryswater. Die tuin word bedien met twee klein kraan-rekenaartjies wat die pomp aanskakel op vooraf-geprogrammeerde tye en die tuin word met 'n kombinasie van reën- en gryswater deur drupbesproeiing natgemaak.

Volgens Steenkamp het hy ongeveer 'n dag geneem om die beplanning te doen en twee weke om die stelsel te bou.

Om so 'n stelsel by jou eie huis te implementeer, is volgens Steenkamp nie te ingewikkeld nie. "As jy 'n plan het waarvan af jy kan werk en dan raad vra indien jy sukkel, sal dit moontlik wees vir enigiemand om so 'n stelsel by hul eie huis te bou.

"Die groot ding is die wil om iets te doen," sê hy.

Prins groet as WKDM se munisipale bestuurder

Tydens ‘n spesiale raadsvergadering het munisipale bestuurder Henry Prins sy laaste aankondigings as

administratiewehoof van die Weskus Distriksmunisipaliteit gemaak.

Prins verlaat die Weskus na agt jaar aan die stuur van die munisipaliteit. Hy sluit op 1 Desember aan by

die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit as munsipale bestuurder.

Prins, ‘n boorling van Bredasdorp, het diep spore in die Weskus getrap.

Hy is in 2007 aangestel as Direkteur van Korporatiewe Dienste by die Swartland Munisipaliteit en in 2009 word hy aangestel as Munisipale Bestuurder van die Weskus Distriksmunisipaliteit. Hy was sentraal in verskeie samewerkingsooreenkomste tussen die distrik en ander plaaslike munisipaliteite wat die standaard van dienslewering aan die publiek verbeter het.

 Tydens sy finale toespraak het Prins sy dank uitgespreek teenoor raadslede en kollegas vir die geleentheid wat hy kon hê om met hul saam te werk.

“Die Weskus se mense kruip diep in jou hart. Ek was uiters bevoorreg om ‘n geleentheid te kry om hier te kon werk. Vandag is uiters moeilik, omdat ek nie net kollegas groet nie, maar ook vriende. Wees verseker dat julle ‘n groot rol in my professionele en persoonlike groei gespeel het en daarvoor is ek uiters dankbaar” het hy gesê.

Die burgemeester van die Weskus Distriksmunisipaliteit, raadsheer Harold Cleophas, het Prins voorspoed toegewens met die pad vorentoe.

“Ons groet vandag ‘n baie professionele en bekwame administrateur. Iemand wat sy werk eerste gestel het en altyd in belang van die WKDM opgetree het” het Cleophas gesê.

Direkteur vir Administrasie en Gemeenskapdienste, Wilhelm Markus, sal vanaf Desember 2017 tot Februarie 2018 as Munisipale Bestuurder waarneem.

Eiewaarde bepaal eie geluk

“Mense wat hulself lief het, dink baie van hulself, maar nooit aan hulself nie.

Mense wat hulself nie lief het nie, dink min van hulself, maar 24 uur ‘n dag aan hulself.”Dit is met dié boodskap

waarmee Ds. Fanie Kriel, ‘n pastorale sielkundige by die onlangse VLV-byeenkoms van Malmesbury afgeskop het

met sy gesprek oor die ontdekking, ontwikkeling en die verstaan van jou en jou kind se eiewaarde.

Volgens Kriel, wat bekend is vir sy gesprekkke op RSG se Groeipyne,

lê eiewaarde die fondament van jou persoonlikheid.

“Eiewaarde is die immunsisteem van jou bewussyn. Eiewaarde bepaal alles in jou lewe.” Die twee grootste gawes wat jy as ouer kan gee, is om jou kind van die Here te leer, maar ook ‘n sterk eiewaarde van kleins af te leer.”

Hy sê verder eiewaarde is nie soos jou persoonlikheid, stabiel nie. “Jou emosies is labiel en gelukkig ook jou eiewaarde.

Dit gaan ook op en af.”

“Die kwaliteit van jou huwelik word bepaal deur jou eiewaarde. Die enigste ding van die huwelik wat nie in die opposites attrack-kategorie val nie, is jul eiewaarde. As jy wil weet wat jou eiewaarde is, moet jy kyk na jou huweliksmaat sin. Jou vriende het ook taamlik dieselfde eiewaarde as wat jy het. Jou intrapersoonlikheid, m.a.w die verhouding wat jy met jouself het, word bepaal deur jou eiewaarde. So ook jou interpersoonlike verhouding met ander. Die mense waarmee jy op jou gemak is, het dieselfde eiewaarde as jy. Jou beroep word bepaal deur jou eiewaarde. Jy gaan tot op die vlak vorder, waar jy jouself sien,” verduidelik hy. Hy voeg verder by dat jou verhouding met die Here, ook deur eiewaarde bepaal word. “Jy gaan nooit jou verhouding met die Here geniet as jy ‘n lae eiewaarde het nie. As jy ‘n hoë eiewaarde het, begin jy God sien volgens Johannes 15, as jou vriend vir wie jy respek het, maar geniet.”

Die negatiewe aspekte van ‘n lae eiewaarde is volgens hom onder meer klassisisme. “Die feit dat wat jy ry, waar jy bly of wat jy kry, vir jou baie saak maak. Jy wil opmaak vir jou lae eiewaarde deur jou klassisisme en snobisme. Jy dink jou duur kar gaan vir jou ‘n hoë eiewaarde gee.”Só ook rassisme. “Rassiste sien hulself as ‘n hoër ras of in ‘n hoër klas, terwyl sy of haar eiewaarde baie laag teenoor hul eie ras is. Hy of sy dink hulle is nie goed genoeg teenoor mense van dieselfde ras nie.”

Mense met ‘n hoë eiewaarde soek uitdagings, terwyl mense met lae eiewaarde die veiligheid, die bekende en die maklikste uitweg soek.

“Mense met hoë eiewaarde gaan ook deur storms, maar staan vinniger op. Mense met ‘n lae eiewaarde sien mislukking as persoonlik en sien hulself as nie goed genoeg nie en kry dit daarom nie reg om op te staan nie.

"Mense met hoë eiewaarde soek gesonde verhoudings, terwyl mense lae eiewaarde ander mense sien as ‘n bedreiging.

"Mense met ‘n hoë eiewaarde kommunikeer openlik, terwyl mense met ‘n lae eiewaarde mompel en hulself wegsteek. ‘n Hoë eiewaarde gee lang verhoudings. ‘n Lae eiewaarde wil net vat in verhoudings, deel graag kritiek uit en beskinder selfs hul eie vriende.

“Hulle voel altyd ander mense is beter as hulle.”

‘n Hoë eiewaarde gee onafhanklikheid.

“Mense met ‘n hoë eiewaarde sê hulle bepaal hul eie geluk, terwyl mense met ‘n lae eiewaarde alles vat vander mense en dat ander mense altyd verantwoordelik is vir hulle geluk of swaarkry,” verduidelik hy.

Kriel sê verder mense met ‘n hoë eiewaarde leef in erkenning en konfronteer die krisis in hull ewe, terwyl ‘n lae eiewaarde mense hul koppe soos volstruise in die grond steek.

“Mense met ‘n hoë eiewaarde voel tuis in hulself en erken wie hulle is, terwyl mense met ‘n lae eiewaarde meer beroemd wil wees, meer geld wil hê en meer erkenning.”

Hy deel die twee pilare van ‘n selfbeeld, naamlik bekwaamheid en selfrespek.

“Mense met ‘n hoë eiewaarde, vertrou hul bekwaamheid en hul vaardighede, terwyl mense met ‘n lae eiewaarde nie in hulself glo om die mas op te kom nie.

"Mense met ‘n hoë eiewaarde het die vertroue in hul reg om gelukkig en suksesvol te wees, die reg het om lief te hê en gehê te word.

“’n Vrou wat in ‘n huwelik is waar die man haar onderdruk, se eiewaarde is ook laag, omdat sy dink sy verdien dit nie om gelukkig te wees nie. Mense met ‘n hoë eiewaarde glo aan hulself en staan vir hulself op, verduidelik hy. Hy voeg by dat iemand met ‘n gesonde eiewaarde sal ruimte gee vir ander mense om hom en nie ruimte wegneem nie.

Pilare van eiewaarde is:

Bewustelikheid-Mense met ‘n hoë eiewaarde leef bewustelik en doen iets aan dit wat om hulself aangaan. Om onbewustelik met ‘n lae eiewaarde te leef, word dit wat om jou aangaan geïgnoreer.

Selfaanvaarding – Mense met ‘n hoë eiewaarde aanvaar hulself vir wie hul is, terwyl mense met ‘n lae eiewaarde nooit goed genoeg voel nie.

Selfverantwoordelikheid-Mense met ‘n hoë eiewaarde is verantwoordelik vir hul eie geluk en gee ook nie die verlede die skuld nie vir hul ongeluk nie, terwyl mense met ‘n lae eiewaarde ander blameer vir hul geluk of ongeluk.

Selfgeldenheid- Mense met ‘n hoë eiewaarde spreek hul mening, sê hoe hulle voel en vra vir dit wat hulle wil hê. As jy nie jouself gaan laat geld nie, het jy ‘n lae eiewaarde wat aggressie, manipulasie en passiewe aggressie (stilstuipe) na vore bring.

‘n Doelgerigte lewe-Mense met ‘n hoë eiewaarde is altyd besig om iets te beplan, terwyl mense met ‘n lae eiewaarde net lewe.

Integriteit-Mense met ‘n hoë eiewaarde praat altyd die waarheid, terwyl mense met ‘n lae eiewaarde leuens vertel.

Kriel herhaal dat ‘n hoë eiewaarde aan jou kinders oorgedra kan word.

“Jou kind is die gelukkigste, hoe minder jy aan hulle doen en hoe minder grense jy vir hulle stel. Gee meer ruimte as grense.

"Sien jou kind as ‘n objek van verwondering, nie een van opvoeding nie. Gee jou kind meer blootstelling as beskerming. Daag jou kind uit, maar hê hulle onvoorwaardelik lief.

Harris nou aan stuur van  Swartland-brandweer

Die plaaslike brandweer spog met 'n splinternuwe hoof en Roysten Harris weet hoe om hierdie warm

stoel behoorlik vol te sit.

Harris is in Retreat in Kaapstad gebore en het in Mitchell's Plain grootgeword waar hy sy skoolloopbaan by die

Cedar Senior Sekondêre Skool voltooi het.

In 1991 het hy by die vloot aangesluit en by die brandweerafdeling sy loopbaan begin.

Harris het na Chevron verhuis en hier as 'n brand-offisier gewerk, voor hy na die Kaapse Wynland verhuis het om as stasie-bevelvoerder van opleiding en ontwikkeling van die junior en senior brandbestryders te werk.

Hier het hy verder studeer en 'n hoër diploma in brand-tegnologie van die Suid-Afrikaanse Nooddienste-instituut ontvang het. Later het hy sy gevorderde universiteitsdiploma in rampbestuur van die Universiteit van die Vrystaat voltooi.

Volgens Harris is daar tans talle uitdagings vir brandbestryders, veral weens die huidige droogte.

"Die droë omstandighede veroorsaak 'n uiterste brand-omstandighede en die brande kan vinnig versprei en so moeilik word om te beheer. Hierdie brande het 'n ongelooflike intensiteit en is baie gevaarlik. Die brandweer-personeel moet nou alternatiewe metodes gebruik om hierdie brande te bestry," verduidelik Harris.

Vir Harris is vuur-veiligheid en brandvoorkoming 'n baie belangrike aspek van gemeenskapsveiligheid. Volgens hom sal die brandweer pro-aktief by skole en die gemeenskap besoek aflê om die veiligheidsprogramme bekend te stel.

"Wanneer 'n sterk wind saam met die huidige droogte gepaard gaan, is die brandgevaar baie hoog. Ons doen 'n beroep op die publiek om ekstra voorsorgmaatreels te tref om te verhoed dat 'n brand ontstaan. Moenie sigaretstompies in metaalhouers plaas en dit op die grond of in landerye gooi nie. Gebruik spesifieke toegewysde areas indien vuurwerke afgevuur sal word. Hou 'n ogie oor alle vure wat gemaak word en maak seker jy smoor 'n vuur heeltemal voor jy die perseel verlaat.

"Wanneer die weersomstandighede droog en winderig is, dan kan 'n oop vuur baie vinnig buite beheer raak. Gebruik dan die 20/20/20-reel. As die temperatuur meer as 20 grade is, die windspoed meer as 20km per uur is en die humiditeit onder 20% daal, moenie 'n vuur maak nie! Hou ook by alle nasionale bou-regulasies en maak seker dat jou erf skoon is," stel Harris voor.

In geval van nood, kontak die brandweer by 022 487 9411.

Swartland
Jou Goeie Nuus - Gratis - Koerant met 'n Verskil in die Swartland - Ons dien en bou © die courant hou kopiereg op alle inhoud van hierdie webwerf en geen deel daarvan mag sonder die bestuur se toestemming gekopieer word nie.