Wellington
Terug na hoofblad

Sunfield se roetedraf ‘n groot sukses

Die Sunfield Trailrun het op Sondag 16 September plaasgevind en talle fiksheidsentoesiaste en ondersteuners van hierdie instansie na ons vallei gelok.

Volgens Garine de Wet, bemarker by Sunfield, het die projek verlede jaar begin.  Hulle het besluit om dit ‘n jaarlikse instelling te maak nadat dit ‘n naamborg gekry het.  Dit staan nou as die Cape Winelands Sunfield Trailrun bekend.

“Dit is ‘n projek wat die deelnemers se hartsnare roer deur die liefdevolle glimlaggies van ons inwoners waarmee hulle op die dag te doen kry.

"Dit is ook ‘n geleentheid waar mense met verteenwoordigers van onder andere die Suidoosterfees en die Departement van Kultuur, Kuns en Sport kan skouers skuur en net lekker saam lag en kuier,” het sy gesê.

Die wenners van die 2017 Suidoosterfees Talentsoek Kompetisie het vir talle vermaak tydens die dag gesorg.

“Hierdie projek is ‘n geleentheid om mense meer bewus te maak van intellektuele gestremdhede en ook  om ons inwoners se vermoë te beklemtoon, eerder as om elke keer te onthou dat hulle gestremd is.

"Hierdie projek is ‘n passieprojek vir Sunfield Home, asook vir die Cape Winelands Sports Council en DKAS,”  het Garine gesê.

Volgens haar is hulle baie dankbaar vir al die borge wat dit moontlik gemaak het.

Die dag is gekenmerk deur ‘n heerlike feestelike atmosfeer en deelnemers kon saam met Sunfield Home se inwoners,

dr. Elna von Schlicht, burgemeester van die Kaapse Wynlande, sowel as Conrad Poole, burgemeester van Drakenstein Munisipaliteit,

in die pret en aktiwiteite deel.

Stalletjies met heerlike eet- en drinkgoed het vir lafenis gesorg en tot die feestelikheid en sukses van die dag bygedra.

Jou Goeie Nuus - Gratis - Koerant met 'n Verskil in die Swartland - Ons dien en bou © die courant hou kopiereg op alle inhoud van hierdie webwerf en geen deel daarvan mag sonder die bestuur se toestemming gekopieer word nie.