Weskus
Terug na hoofblad

Saterdagnuus vir Weskus se Dana

•Madi Pieterse

So `n week of twee gelede, op `n Saterdag, ontvang Dana Snyman `n e-pos van Frits Gaum, voorsitter van die Andrew Murray-prysfonds.

Daarin word hy meegedeel dat `n spesiale Andrew Murray-toekenning vanjaar aan hom gemaak word vir die skryf van die verhoogstuk, Dominee Tienie, wat ook die basis vorm van die fliek met dié naam.

“Die mense wat besluit het oor die toekenning reken dat Dominee Tienie `n merkwaardige, eerlike verhaal is oor `n hedendaagse predikant wat worstel om sy gemeente in die nuwe era te help oorleef, nog altyd die man van sy vrou en die pa van sy kinders is en ook geloofstwyfel leer ken.

“Naas pryse vir Christelike en teologiese publikasies, maak die Andrew Murray-prysfonds (wat al meer as 40 jaar bestaan) gereeld ook spesiale toekennings vir ander media,” sê die skrywe. Dit is hier waar Dana se Dominee Tienie, `n eenmanvertoning wat hy `n paar jaar gelede vir Frank Opperman geskryf het, ter sprake kom.

Hierdie is nie die eerste toekenning wat Dana vir sy alombekende en beminde skryfwerk ontvang nie. Hy is ook `n bekroonde rubriekskrywer wat al `n hele paar ATKVeertjie-toekennings ontvang het.

Dit bly vir Dana `n eer en voorreg om erkenning vir sy werk te kry, want maak nie `n fout nie, om te skryf is harde, gedissiplineerde werk en lang ure van sit voor `n rekenaar waartydens die skrywer intens moet konsentreer. Maar Dana hou van sy werk. Hy sien dit as `n ambag. Soos wat `n skrynwerker sy ambag beoefen wanneer hy kaste bou en installeer, moet hy as skrywer stories bou en aanmekaar sit sodat die leser altyd sal vra vir nog.

Dana woon tans in Yzerfontein in `n huurhuis saam met sy vier honde. Blackie is die bekendste van die vier nadat Dana hom op een van sy reise langs die pad opgetel het en dié nou gereeld saam met hom rondry wanneer hy agter stories aangaan. Blackie is gereeld deel van die storielyn. Die ander drie is Jerry, Kleintjie en Vlooi. Saam geniet die vier pragtige en duidelik gelukkige honde `n luilekker lewe. Dit terwyl Dana oor `n koppie koffie vertel van sy doen en late.

Alhoewel Dana binnekort weer Jacobsbaai toe trek, is sy lewe op Yzerfontein nou verweef met `n paar mense. Een van hulle is Erna Oosthuizen, wat hy die afgelope jaar ontmoet het terwyl hy nog die skok van sy verloofde se dood, in Oktober 2017, verwerk het. Dana se verloofde en Erna se man het albei hulle eie lewens geneem en hierdie twee seer mense kon mekaar troos in die rouproses en ook goed verstaan wat elkeen deurmaak.

Erna het voorheen `n kunswinkeltjie gehad en wil baie graag weer een begin. Dana het die gedagte aangegryp en Swarthond is gebore, `n winkeltjie wat klaargemaakte lapgoed verkoop.

Wanneer Dana terugstaan en na die geheel van sy lewensprentjie kyk soos dit nou is, is daar `n klomp lyne wat bymekaarkom. Iewers in hierdie verhaal van `n rouproses en `n kunswinkel en opgestopte lapgoedjies, het Moses homself kom inpas. Moses is `n werklose jong man wat ongelooflik kunstig is met lapwerk. En wanneer hy voor die masjien gaan sit en verskillende lappies aan mekaar begin werk, word dit kunswerke wat jy op jou kop wil dra om die son te keer of sommer net oor dit mooi is.

Moses het nie net uit die niet verskyn nie, hy is bekend aan Dana. Baie jare gelede, in sy grootwordjare op Ventersdorp, was daar Johannes Mogosi, wat in die pastorietuin gewerk het. Ná Dana se pa dood is en hy hom later op Jacobsbaai gevestig het, het Johannes saamgekom. En Moses, wat verantwoordelik is vir die mooi lapgoed, is Johannes se vrou se broer. En so is `n klomp lewens oor jare heen saamgevleg om uiteindelik hier aan die Weskus rustigheid te vind.

Erna het toegesien dat Moses `n gerieflike woon- en werkplek het waar hy ongestoord mooi lapgoed aanmekaar kan sit.

Dana bly besig met sy skryfwerk en werk tans aan Soekmekaar, `n boek met allerhande verhale, sommige wat hy al voorheen gebruik het en ander wat splinternuut is. Na Dana en Frank se groot sukses met die eenmanvertoning Dominee Tienie (Frank het die vertoning sowat 250 keer lewe gegee), het hulle weer koppe bymekaar gesit en die splinternuwe Donkie is verlede maand op die Woordfees bekend gestel. Donkie het baie goeie resensies ontvang en die agent is alreeds besig om die dagboek met besprekings op te vul.

Frank voer Donkie eersdaags in Port Elizabeth op wanneer skoolhoofde van regoor die land bymekaar kom. Dana sal op 24 Mei die spesiale Andrew Murray-toekenning vir Dominee Tienie by Neethlingshof in Stellenbosch ontvang.

Saaiprojek ploeg miljoene terug

Die forum het reeds meer as R1 miljoen teruggeploeg in die plaaslike gemeenskap.

‘n Plaaslike saaiprojek in die Bergrivier Munisipaliteit ploeg wéér terug in hul gemeenskap. En sedert die begin van die projek, is meer as ‘n R1000 000 aan die plaaslike gemeenskap uitgedeel.

Die Porterville Gemeenskapsvereniging help vanjaar vir die 15de agtereenvolgende keer om ‘n ware verskil in ander se lewens te maak.

Die vereniging is destyds as ‘n liefdadigheidsorganisasie gestig om behoeftige instansies en inwoners binne die gemeenskap van Porterville by te staan.

‘n Saaiprojek is in 2004 wat stapel gestuur wat uiteindelik ‘n wins sou genereer om aan begunstigdes binne die gemeenskap oor te dra.

Die saaiprojek het tot die verbouing van graan op ‘n stuk meentgrond van 25ha groot op Porterville gelei.

Die grond word ook jaarliks gratis deur die plaaslike munisipaliteit voorsien.

Verskeie insetverskaffers is genader om insette soos saad, kunsmis en chemikalieë, asook dienste van onder meer krediet, boekhouding en kontrakwerk volledig of gedeeltelik te borg.

Dit sou bydra dat ‘n groter deel van die inkomste uit die verkope van die graan aan die begunstigdes beskikbaar gestel kan word.

Volgens die organiseerders is die betrokkenheid en ondersteuning van dié borge die kern tot die sukses van die saaiprojek.

Die geleentheid waartydens die finansiële opbrengs van koring geproduseer gedurende die 2018/19-seisoen aan die begunstigdes oorhandig word, het verlede week op Porterville plaasgevind.

Sedert 2003 maak die Porterville Gemeenskapsvereniging daadwerklik ‘n verskil in die lewe van sy gemeenskap.

Vanjaar se fondsoorhandiging is vir Porterville Gemeenskapvereniging ‘n besonderse jaar.

Oor die leeftyd van die saaiprojek is meer as R1 000 000 aan die gemeenskap uitgedeel.

Nietemin is vanjaar ook die grootste enkele uitdeling van fondse, lui ‘n verklaring deur Kaap Agri.

’n Finansiële opbrengs van R 200,000 vir die 2018-oesjaar is verlede Dinsdag aan verdienstelike instansies op Porterville uitgekeer, wat die totale bedrag sedert die projek se ontstaan op R1 134 370 te staan bring.

Rugby: Boland pak Cheetahs op Paternoster

Teen die einde van verlede week het Boland Rugby, met Cassie Carstens as Hoof Uitvoerende Beampte aan die stuur van sake, bevestig dat die Boland Kavaliers en die Vodacom Cheetahs mekaar eersdaags op Paternoster se veld die stryd sal aansê.

Dit is `n provinsiale liga-wedstryd as deel van die Supersport Challenge.

In die voorwedstryd tot hierdie grootse geleentheid sal Paternoster se span ook teen Saldanhabaai kragte meet.

Genoemde wedstryde, en nog vele meer wat moontlik al van Vrydag af gespeel sal word, vind Saterdag, 4 Mei plaas.

Die finale reëlings sal binnekort bekend gemaak word, maar volgens alle aanduidings word `n rugbyfees vir die duur van die naweek beplan en sal daar ook kosstalletjies en allerhande ander bedrywighede wees, werklik `n rugbyfees-naweek wat nie gou vergeet sal word nie.

Veterane saam by Plaasmol

Die Hopefield-skietklub hou 'n veteranedag op 18 Mei en dit beloof om 'n dag vol opwinding en pret te wees vir die hele gesin.

Die dag skop op 09:30 af met 'n skietoefening vir handwapens op die Hopefield-skietbaan.

Kaartjies is beskikaar by Japie (071 567 0662), David (082 219 0513), Winnie (072 354 2068), Lizelle (071 422 2694),

Arél (083 753 3632) of Ted (076 585 2026

Jou Goeie Nuus - Gratis - Koerant met 'n Verskil in die Swartland - Ons dien en bou © die courant hou kopiereg op alle inhoud van hierdie webwerf en geen deel daarvan mag sonder die bestuur se toestemming gekopieer word nie.