Swartlander tweede in 2019 Bergrivier Kanomarathon
Die moordende ultra-kanomarathon wat elke jaar op die Bergrivier plaasvind, het vanjaar ‘n Swartlander op die podium gehad in die afdeling vir gemengde pare.
Ansuné Basson, ‘n boorling van Malmesbury, en haar oom, Petrus Crous, het die 240 km van die Bergrivier Kanomarathon in 20 uur 47 minute en 0.44 sekondes voltooi. Dit het aan hulle die tweede plek besorg agter die wenners van dié afdeling, Melanie van Niekerk en Richard Allen.
Die Bergrivier Kanomarathon is sedert 1962 as ‘n solo-marathon gehou, maar die organiseerders het dit verlede jaar na ‘n pare-kompetisie verander om in te pas met die moderne neiging vir ultra-kompetisies.
Basson het voorheen al solo deelgeneem en Crous is ‘n deurwinterde roeier in dié wêreldbekende marathon.
Hul tye in die vier skofte vanjaar was 4:52:59.91 (Paarl na Sonkwasdrif), 4:00:53.54 (Sonkwasdrif na Bridgetown), 6:28:24.56 (Bridgetown na Zoutkloof) en 5:24:42.42 (Zoutkloof na Velddrif).