Sterbelaaide eerste Push and Pull Paddle skop Vrydag af
Die eerste Bamboo Warehouse Push And Pull Paddle-wedvaart oor drie dae vind van Vrydag tot Sondag plaas met ‘n uiters mededingende veld roeiers wat dié eerste titel agter hul naam wil skryf.
Onder die top-roeiers wat graag Sondag eerste by die eindpunt by Delsma buite Hermon sal wil aankom, tel Stu MacLaren, Andy Birkett (die huidige marathon K1 en K2 wêreldkampioen en negemalige Dusi kampioen), Nicky Notten, Stew Little, Luke Stowman, Anders Hart, Uli Hart, Bartho Visser, Luke McNish, Evan Knight, Zach Preyser en Jermaine Pietersen.
Dan is daar ook nog die ervare Heinrich Schloms, Louw van der Riet, Ernest van der Riet, Edgar Boehm Jnr, Paul Marais, Mynhardt Marais en Waldo van der Linde.
Maar die vol veld hou nie daar op nie. Die sterre wat gaan meeding, sluit ook Simon van Gysen (saam met Paul Marais tweede in die 2019 Berg), Graeme Solomon (wat saam met sy spanmaat, Adrián Boros, die voorlopers in die 2019 Berg was voordat Boros weens siekte moes onttrek), Lance Kime (voormalige dubbele Dusi-kampioen), Andrew Houston van KwaZulu-Natal en Shaun Rubenstein (‘n voormalige wêreldmarathonkampioen) in.
Om dinge vanuit die staanspoor warm te maak en te verseker daar is volop aksie, is daar op die eerste skof Vrydag oor 16km vanaf Val de Vie-landgoed na die Bergrivierbrouery in die Paarl twee “hot spot”-pryse – by die nuwe brug oor die rivier by Val De Vie (3,3 km ná die wegspring) en weer by die verpligte oordraplek net onderkant die Markstraatbrug in die Paarl.
Die “hot spot”-pryse vir mans en vroue-roeiers is dieselfde.
Die vroue-afdeling beloof ook strawwe kompetisie met die huidige Dusi-kampioen, Christie Mackenzie, die jongste toevoeging tot die lys van aanspraakmakers op die eerste titel.
Mackenzie voeg haar by die sterk groep vroue onder wie Bianca Beavitt, Bianca Haw, Tracey Oellerman en Kim van Gysen wat die wedvaart, wat op Vrouedag afskop, wil wen.
Sy het gesê sy is opgewonde oor die organiseerders se plan om op die eerste verhoog (Vrydag) op Vrouedag hulde te bring aan vroue in die kano.
“Dit is ‘n ongelooflike idee. Wat dit opwindend maak, is om die lengte en kwaliteit te sien van die lys aanspraakmakers wat gereageer het op die inisiatief van die wedloop om vroue te erken.”
Die tweede skof Saterdag skop ook op ‘n vinnige noot af met ‘n “hot spot”-prys by die Dal Josaphat-keerwal, skaars ‘n minuut ná die begin van die skof.
Meer inligting kan gevind word op www.pushandpullpaddle.co.za