Hoe gemaak met Oktober-tuin
Die mooiste mooiste maand! Ja, as die Swartland so geil-groen staan en alles wat kan blom is in volle blom, kan ons nie anders as om met C Louis Leipoldt saam te stem dat Oktobermaand die mooiste mooiste maand is nie.
Alle bladwisselende plante en bome kry hul nuwe blaredos, alles lyk nuut en vars. Dan het ons nog ook al die oorvloedige reëns gekry en ons damvlakke lyk pragtig, dus gaan ons almal die Somer in met ‘n positiewe gemoed, ek hoop julle het almal lus om iets in die tuin te doen, dit is net een maal per jaar LENTE !!
Daar is heelwat take wat op ons tuin se doenlysie aandag aan gegee moet word; • Grasperke moet meer gereeld gesny word, asook kos kry, monitor vir swamme & onkruide. Die regte voeding vir grasperke sal wees tussen 2:3:4 (vir meer wortel & stingel groei) of 3:2:1 (vir meer blaar groei), ons kan ook in die hoogsomer 4:1:1 of K A N gebruik.
Indien daar swamsiektes op die grasperk voorkom moet die korrekte produk vir die spesifieke probleem gebruik word; “Daalderkol” is sulke redelike sirkelvormige, vrot kolle in die grasperk en daarvoor moet ons ODEON of ORIUS gebruik.

“Roes” is weer wanneer die blaar van die gras sulke klein roesbruin vlekkies op kry, daarvoor gebruik ons CHRONOS of VIRIKOP.
‘n Ander probleem gedurende die warmer maande is grasperkruspers & waterkrieke, hiervoor is daar ‘n paar produkte wat gebruik kan word, CYPER, KOINOR, MERIDIAN of KARBASPRAY. Kom vra en ons sal die regte aanbeveling maak.
• Dit is nou ook tyd om saailinge te plant vir ‘n kleurvolle somertuin; Petunias; Dianthus (Grasangeliere); Marigolds (Afrikanertjies); Allyssum (Heuningblomme); en nog baie ander soorte, te veel om op te noem. Daar is ook net so ‘n wye reeks sade wat gesaai kan word.
• Maar moenie die groentetuin vergeet nie, daar is ook ‘n wye verskeidenheid wat nou geplant kan word, saad & saailinge, amper te veel om op te noem.

• Dan is daar ook die blombolle vir die somertuin:
• Gladiolus – swaardlelies, helderkleurige lang ritse, ook geskik as snyblom, plant hulle bolle in sarsies, want dit blom ± 100 dae na plant.
• Zantedeschia – dit is nou ons gekleurde aronskelk varieteite, dit is somerblommend en dit moet nie so nat kry soos ons wit Bolandse aronskelke nie, die knolle sal vrot.
• Amaryllis – en Dahliabolle is ook nou op die rake, pragtige kleure om van te kies en beide kan ook as snyblomme gebruik word.
• Grondvoorbereiding vir enige plant is baie belangrik, kry regte inligting en produkte NB NB.
• Roostuin, met al die nuwe groei moet daar gereeld gemonitor word vir plantluise & swamme, daar is ook ‘n wye reeks produkte om te gebruik, soos bv Rosecare & Rose Protector en nog vele meer, probeer afwissel, want die peste & plae bou weerstand op wanneer jy aanmekaar dieselfde produk gebruik.
• Snoeiwerk, teen die tempo wat plante in die lente en vroeg-somer groei, kan ons nie die snoeigereedskap te diep bêre nie, doen gereeld ‘n bietjie snoeiwerk en die tuin sal nie ‘n oerwoud word nie. Onthou ook om al die LOLIPOP boompies gereeld te knip.
• Rankplante, bind dit op teen hul traliewerk om netjies te lyk en mooi te groei & te blom.
Tuingroete. George Retief.