Hoe gemaak

Maak só met vrugtebome

Die dae raak langer en dit word ook warmer en soms ook bietjie meer winderig, daarom droog ons tuine vinniger uit en sal ons na die waterbehoeftes van ons grond moet kyk.

Nou dat ons weer ons tuine bietjie kan natmaak, sal ons dringend na metodes moet kyk om water te bespaar.

Gebruik kompos en boombas om ‘n lekker deklaag in jou tuin te gooi om te verhoed dat die grond so vinnig uitdroog.

Gebruik nog steeds jou gryswater in jou tuin, moet dit nie te lank opgaar nie.

Kom ons kyk ‘n slag na die vrugtebome.

Die meeste somervrugte het nou alreeds ‘n stewige drag aan, indien die boom te veel vruggies aan het, dun bietjie uit sodat die boom die res van die vrugte ordentlik kan groot- en rypmaak.

Om die vrugtevlieg en die vals kodlingmot ens weg te hou, spuit gereeld met produkte wat “Siepermetrien” bevat.

Jy kan ook ‘n lokaas aanmaak wat jy in ‘n 2 liter plastiese koeldrankbottel gooi waarin jy ‘n paar klein gaaitjies gemaak het vir die vliegies om in te klim.

Meng; 2 koppies vrugtesap, 2 koppies water, 1 koppie asyn met 1ml “Siepermetrien” en gooi in bottel en hang dit in die boom op, met die prop op om te keer dat bye daarin beland.

Hou vrugtebome dop vir swamsiektes op die blare, bring ‘n voorbeeld saam en ons gee vir jou die beste raad vir die plaag.

Veral die druiwestokke en priële moet jy nou mooi dophou vir swamsiektes op die blare veral witroes en donsskimmel, bring die blare en ons help.

‘n Plaag wat die tyd van die jaar ernstig raak, is witvliegies. Dit is ‘n klein wit vliegie wat aan die onderkant van die blare sit en dit suig die plantsappe uit, plaas baie stres op plante en maak dit dood.

Witvlieg se lewenssiklus is 3 dae, so om dit te wen moet jy elke drie dae spuit vir omtrent drie tot vier weke. Daar is ‘n paar produkte wat gebruik kan word vir witvlieg en ons gebruik dit saam met ‘n spuitolie of ‘n baie goeie kleefmiddel.

Dan is daar ook ‘n paar produkte wat by die wortels gegooi kan word en deur die plant opgeneem word en sodoende raak jy ontslae van jou witvliegies, maar moet dit verkieslik nie op eetbare gewasse gebruik nie.

Laaste maar nie die minste , moet nie vergeet om jou oorgroeide struike ens gereeld terug te knip sodat dit mooi en netjies bly nie. Grasperke benodig ook om gereeld gesny te word, dan bly dit netjies.

Sterkte met die tuintake

Tuingroete

George Retief

Leave a Reply

error: Content is protected !!