Ma, dogter se verse saam in bundel

Dit reën. ‘n Lekker harde bui op die teëldak van die besondere huis op Malmesbury en ons gesels oor leestekens.
Sy gebruik nogal baie die akuut in haar skryfwerk om woorde te beklemtoon, vertel dié oud-Akkedis in haar sitkamer.
Hierdie is ‘n teëldak bo-op die sinkdak en soms wens ek dit was net sink om die reën beter te kon hoor, voeg by.
Haar digkuns het op skool aan die Hoërskool De Villiers Graaff op Villiersdorp al begin, vertel Annalene Boonzaier, wie se werk nou saam met dié van haar dogter Anja en 53 ander digters opgeneem is in ‘n splinternuwe spogdigbundel, Sterrehoop.

Vir lank het sy nie gedig nie. Baie gedigte het vir jare iewers in ‘n sak gelê, tot ‘n facebook vriendin haar vroeër vanjaar aangemoedig het om van haar werk op die groep van Malherbe-Die Digtershuis te plaas.
Kort voor lank was haar gedigte van die gewildste op dié digtersgroep. Haar plasings het pas weer in Oktober ook die meeste interaksie op die groep ontlok.
Boonzaier se pa was skoolhoof op Vyeboom en sy was toe in De Villiers Graaff, waar die leerders Akkedisse genoem word.
Die liefde vir taal kom ‘n lang pad en sy wou aanvanklik Afrikaans/Nederlands studeer, maar het toe onderwys gedoen en ook ‘n diploma in biblioteekkunde.
Die inspirasie vir gedigte kom van “Pappa, wat altyd vir ons kinders stories soos dié van CJ Langenhoven gelees het.
“Mamma het ook onderwys gegee en het die biblioteek op Vyeboom begin.”
Nog een van haar groot inspirasies is ‘n jarelange skoolvriend van St. 6 af tot vandag, Jurie Francois du Toit. “Ek moes altyd sy gedigte proeflees.”
Boonzaier vertel haar oorlede man, Johan, het “pragtige gedigte geskryf”. Haar seun, Johan, het ook al ‘n gedig geplaas op die digtersgroep en haar jongste dogter, Emma-Minke, skryf weer lirieke vir haar selfgekomponeerde liedjies.

Twee onlangse gedigte van Boonzaier. Foto: Lynne Kruger-Haye


Sy vertel van haar jare as onderwyser en haar man se skielike dood. Sy vertel van vriende, hartsvriende soos Noeline Stofberg en Annelize Lambrechts wat haar oor die jare ondersteun en aanvul: “As ek by die see is, of in die veld of by lekker vriende of soms gedurende ‘n rugbywedstryd sal ek ‘n gedig daaroor skryf. Soos nou met die Wêreldbeker… sommer op my selfoon getik.”
Oor haar gedigte, sê Boonzaier: “Dit het nie ‘n spesifieke styl nie. Skryf soos my hart, emosies, luim, my eie ek, my lei.
“Woorde verskaf plesier en selfs vertoosting. Wanneer ek soms hartseer is of verlang word donkerder gedigte gebore.”
Haar reaksie toe sy hoor haar werk is vir die nuwe bundel gekies:
“Sjoe!!!!Ek is steeds stomgeslaan…dit moet seker wonderlik voel om jou eie werk in n boek te aanskou en dan boonop die eer en genade om saam met jou dogter, Anja Thiart, in die boek te mag ‘pronk’.”

‘n Onlangse gedig van Anja Thiart. Foto: Linda Fourie


Maar Boonzaier skilder nie net met woorde nie, sy teken en skilder ook met die verfkwas en deesdae met die paletmes.
En dan gee sy graag van haar kuns weg.
Een van haar onlangse gedigte:

Gee . . .
gee sente
gee silwer
gee goud
. . . in skatkamers op aarde…geen behoud
gee kos
gee klere vol kleur
gee alles wat jyself begeer
vir ander
vir armes
vir rykes
vir jonges
vir oues
vir floues…op hul lewensreis
gee meer
gee minder
gee meer of min
gee min of meer
en besin
oor jou eie gewin
gee liefde
gee dade
gee jou glimlag
gee dit elke dag
GEE

Oor ‘n koppie koffie kuier ons heerlik saam in die pragtige ou huis waar sy al meer as 30 jaar woon.
Saam met ons is Julius Sirgel, afgetrede biologie-onderwys wat vir myself ook biologie gegee het aan De Villiers Graaff.
Die gesprek dwaal af en die twee mense deel hul wyer belangstellings – ook in ‘n taal soos Xhosa, en Sirgel deel ‘n bietjie van dié taal se unieke uitspraak van sommige letters.
Sirgel vertel ook van die fossiele aan die Weskus en ook sy belangstellings in die San en Khoi-gemeenskappe.
Ons blaai deur ‘n pragkoffietafelboek van fotograaf Lynne Kruger-Haye, 50 Over 50. Portretstudies van 50 vroue oor 50 waaronder beide Boonzaier en Stofberg, asook Stofberg se ma, Freda Opperman, en Andrea de Jager – almal van Malmesbury.

Foto: Lynne Kruger-Haye

Oor ‘n onlangse opmerking op die radio dat net depressiewe mense en ongelukkige mense gedigte
skryf, sê Annalene: “Ek lag maar net, want ek het nog nooit ‘n anti-depressiepil oor my lippe gehad nie.
“Kort dalk eerder ‘n pil om minder spraaksaam te wees, maar dan weer, is ek nie Annalene Young wat Onse Vader so uniek geskape het nie.
“Mamma Annie. Baie dankie dat jy altyd vir my gesê het ek moet eendag ‘n boek skryf.
“En nou gaan ek met die Here se wil my oorlede man se boek voltooi…
“Hy het net die voorwoord geskryf. Gelukkig weet ek die tema was: Liefde Oor Grense Heen.”
Die wiele is intussen ook aan die rol dat sy binnekort haar eie digbundel kan publiseer met 60 van haar gedigte.
Voor ons mekaar vroegskemer in die voortuin onder pers jakarandas teen die aand se reënwolke groet, sluit Annalene af:
“Die erkenning vir my gedigte opgeneem in die bundel Sterrehoop
gee my selfvertroue
gee my vryheid
gee my vlerke
laat my vlieg soos ‘n arend
met “Sy” wind onder my vlerke…
…my ondersteuningstelsel… Hy.”

*Die digbundel, Sterrehoop, is deur Martie Elizabeth Bezuidenhout saamgestel en teen R180 beskikbaar by Malherbe Uitgewers – https://www.malherbe-uitgewers.co.za/poesie-poetry/product/sterrehoop-digtershuis-digters

One thought on “Ma, dogter se verse saam in bundel

  • November 7, 2019 at 1:41 pm
    Permalink

    Lekker gelees. Annalene, trots op jou en Anja ! Hou so aan ! Dankie vir die Courant Johan.

    Reply

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

error: Content is protected !!