Planne vir nuwe nommerplate

Die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke vra kommentaar vir ‘n nuwe voertuigregistrasienommerstel vir die provinsie.
Die Wes-Kaapse Minister van Vervoer en Openbare Werke, Bonginkosi Madikizela, sal binnekort in die Provinsiale Gazette ‘n kennisgewing publiseer waarin publieke kommentaar gevra word op planne om ‘n nuwe provinsiale voertuiglisensienommerstel aan al die registrasieowerhede toe te ken.

Luidens regulasie 27 (4) van die Nasionale Padverkeersregulasies, 2000, uitgevaardig ingevolge die Nasionale Padverkeerswet (93 van 1996), mag die LUR met kennisgewing in die Provinsiale Gazette ‘n nuwe lisensienommerstel vestig en toeken vir die betrokke provinsie.
Dié stap word genoodsaak weens die tempo waarteen die beskikbare CAA- en CAW-lisensienommers vinnig opraak.
Die CAW-nommers vir die groter George-gebied sal na verwagting binne ses weke met CAG-nommers vervang word. Dit is in ooreenstemming met die buitengewone Provinsiale Gazette 7884, gedateer 26 Februarie 2018.
Teen die huidige tempo sal die beskikbare CAA-nommers vir Kaapstad teen Januarie 2020 uitgeput raak.
Soortgelyk aan die situasie ‘n paar jaar gelede in Gauteng, is ‘n nuwe lisensienommerstel binnekort nodig vir alle voertuie in die provinsie. Die voorgestelde wysiging van ‘n nuwe provinsiale lisensienommerstel sal enige verdere verwante uitdagings by die registrasiepunte uitskakel.
Madikizela het gesê met die voorgestelde stel wat letters en syfers bevat kan ongeveer 16 miljoen unieke nommerplate toegeken word. “As die nuwe stel goedgekeur word, sal dit dus lank neem voor daar weer ‘n probleem met nommerplate sal wees.”
Die departement oorweeg die opsie om voorsiening te maak vir ‘n oorgangstydperk van vyf jaar, waartydens die publiek tot die nuwe stel moet omskakel.
Persoonlike WP-lisensienommers sal nie deur hierdie nuwe stelsel beïnvloed word nie.
Die owerheid het daarop gewys dat daar vroeër vandeesweek reeds 76 212 CAA-nommers toegeken is sedert die bekendstelling daarvan op 13 April vanjaar.
Die departement het ‘n paar voorstelle oor vir ‘n nuwe lisensiestel aan die minister gemaak, wat dit op sy beurt by die provinsiale kabinet ter tafel gelê het.
Enige persoon of organisasie wat kommentaar wil lewer op die voorgenome kennisgewing, sal versoek word om die kommentaar skriftelik te lewer voor of op die datum soos in die kennisgewing in die Provinsiale Gazette aangedui sal word.
Die departement het in ‘n mediaverklaring gesê hulle sal weer ‘n verklaring uitreik sodra die datum van die publikasie in die Provinsiale Gazette gefinaliseer is.

Ou nommers wat volgens plan deur die nuwe stel vervang sal word.
CA of CAA – Kaapstad
CAM – Caledon & Kleinmond
CAR – Clanwilliam, Lambertsbaai, Citrusdal, Graafwater
CAW – George
CBL – Ladismith
CBM – Laingsburg
CBR – Montagu
CBS – Mosselbaai
CBT – Murraysburg
CBY – Piketberg
CCA – Prins Albert
CCC – Riversdal
CCD – Robertson & McGregor
CCK – Swellendam & Barrydale
CCM – Tulbagh
CCO – Uniondale
CCP – Vanrhynsdorp, Klawer
CEA – Moorreesburg
CEG – Heidelberg
CEM – Hermanus, Gansbaai, Onrusrivier & Stanford
CEO – Grabouw & Elgin
CER – Bonnievale
CES – Albertinia
CEX – Porterville
CEY – Strand & Gordonsbaai
CF – Kuilsrivier, Brackenfell, Kraaifontein (Voorheen Grahamstad)
CFA – Wolseley
CFG – Vredenburg, Saldanha & St Helenabaai
CFM – Somerset-Wes.
CFP – Velddrif & Laaiplek
CFR – Kuilsrivier & Brackenfell (ouer voertuie)
CG – Oudtshoorn
CJ – Paarl
CK – Malmesbury, Darling & Riebeekvallei
CL – Stellenbosch & Franschhoek
CN – Wellington
CO – Calitzdorp
CR – Hopefield, Langebaan & Langebaanweg
CS – Bredasdorp & Napier
CT – Ceres
CV – Vredendal
CW – Worcester, De Doorns & Touwsrivier
CX – Knysna, Sedgefield & Plettenbergbaai
CY – Bellville, Durbanville, Parow, Goodwood
CZ – Beaufort-Wes

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

error: Content is protected !!