Mullineux, Swartland blink op Platter’s

Die Swartland as wynstreek het dié naweek weer hard en duidelik kleim afgesteek met ‘n rits vyfstertoekennings, wyne van die jaar asook wynkelder van die jaar toe die jaarlikse Platter’s Wyngids vir 2020 bekend gestel is.
Mullineux Wyne is vir die vierde keer in sewe jaar as die beste Wynkelder in Suid-Afrika aangewys. Dit volg nadat die kelder onder die bestuur van Chris en Andrea Mullineux dié toekenning ook vir 2019, 2016 en 2014 ontvang het.

Hulle het vanjaar ook met twee wyne die Wyn van die Jaar in elkeen se betrokke kategorie ingepalm. Dié wyne is Mullineux Straw Wine 2018 (Vin de Paille van die Jaar) en Granite Syrah 2017 (Shiraz/Syrah van die Jaar).
In ‘n onderhoud vroeër met dié courant het Andrea Mullineux gesê dit is belangrik om aandag op alle vlakke in die industrie aan die fyner besonderhede te gee.
“Daar is baie klein dingetjies wat jy as wynmaker nie moet miskyk nie.”
Ná hul toekennings die naweek, sê Mullineux: “Daar is soveel ongelooflike wynkelders in Suid-Afrika en ons voel geëerd om onder hulle te wees.
“Ons sou dit ook nie kon doen sonder ons span in die wingerde en die wynkelder nie.”
Mullineux het nóg drie vyfstertoekennings vir hul Iron Syrah 2017; Old Vines 2018 en Schist Syrah Roundstone 2017 ontvang.
Nog Swartlandse wynprodusente wat vanjaar uitstekend gevaar het met die Platter-toekennings, is Sadie Familiewyne, David & Nadia, Rall Wyne, Leeuwenkuil Wyne, AA Badenhorst en Mount Abora wat almal vyfstertoekennings ontvang het.


Om 5 sterre te verower, moet ‘n wyn ‘n telling van 95+ kry op die internasionale 100 punt-skaal.
In die geval waar wyne saam die hoogste punte behaal, word albei as Wyn van die Jaar aangewys.
Sadie Familiewyne se Palladius 2017 het met die louere weggestap in die Wit Versnitte/Ander-kategorie en hul Sadie Soldaat 2018 is aangewys as die Grenache Noir van die Jaar.
Sadie Familiewyne se drie ander wyne wat ook elk 5 sterre behaal het, is Mev Kirsten Chenin Blanc 2018; Skurfberg Chenin Blanc 2018 en ‘T Voetpad 2018.
Rall Wyne se Ava 2018 is aangewys as die Chenin Blanc van die Jaar.
Rall Wyne het nog twee vyfstertoekennings ontvang vir hul Ava Syrah 2018 en White 2018.
David & Nadia het 5 sterre ontvang vir elk van hul Chenin Blanc 2018; Hoë-Steen Chenin Blanc 2018; Plat’Bos Chenin Blanc 2018 en Skaliekop Chenin Blanc 2018.
Twee wyne van AA Badenhorst – Dassiekop Steen 2018 en Kelder Steen 2018 – het ook 5 sterre verower.
Leeuwenkuil Wyne het met hul Heritage Syrah 2017 en Reserve White 2017 elk 5 sterre ingepalm.
Mount Abora het 5 sterre ontvang vir hul Koggelbos Chenin Blanc 2017.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

error: Content is protected !!