Bly gesond vra Wesbank-hoof wat in grendeltyd begin

Midde die staat van inperking moes Vincent Paramore, ‘n boorling van Bedford in die Oos-Kaap, op 1 April sy take as nuwe skoolhoof van Wesbank Sekondêr op Malmesbury opneem.
Hy het in Port Elizabeth gematrikuleer voor hy aan UWK gaan studeer het.

Ná sy opleiding by UWK het hy in 1985 begin skoolhou by Scotsville en daarna was hy by heelparty skole waaronder Aloe in Mitchells Plain waar hy later departementshoof was, en toe adjunkhoof by Ashton Sekondêr en daarna adjunkhoof by Spine Road in Mitchells Plain.
Paramore, wat later vanjaar 60 word, was ‘n rukkie uit die onderwys en sedert 2013 by Voortrekker Hoërskool in Kenilworth waar hy die adjunkhoof was tot hy nou op 1 April diens by Wesbank aanvaar het.

Oor sy vakgebied vertel Paramore aan dié courant: “Ek is in die wetenskappe gekwalifiseer em het jare natuur- en skeikunde gegee. Ek het ook wiskunde onderrig, maar die afgelope tyd was dit maar natuurwetenskappe.”
Hy vertel hy is “gelukkig getroud met Michelle (sy is in die kleremaakbedryf).” Hul het twee dogters Ilse (11) en Emmah (13) en woon in Mitchells Plain.

Oor die uitdagings om in hierdie tyd ‘n nuwe pos op te neem sê hy: “Vir my was dit nogal ‘n klein bietjie moeilik, want gewoonlik begin jy by ‘n skool en ken die skool se opset, maar die lockdown het mooi gekom toe ek hier moes begin.
“So ek ken nie die skoolopset nie en ek ken nie die onderwysers nie. So dit is ‘n vreemde ervaring.”
Gepols oor wat hy graag sal wil vermag by Wesbank Sekondêr: “Ek gaan dit so stel. My visie is om die skool een van die beter skole in die omgewing te laat word. Ek gaan nie veel krap aan dinge wat werk nie. Dié wat natuurlik moet verander, sal ons verander.”

dié courant het Paramore gevra of hy ‘n boodskap vir die kinders en skoolgemeenskap het: “Die enigste boodskap wat baie swaar op my hart druk, is dat almal moet die reëls nakom, gesond bly. Alles in hulle vermoë doen om gesond te bly sodat die toekoms verseker is.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

error: Content is protected !!