Agri/BusinessLatest

Leeuwenkuil Syrah dubbeld vereer

Kort op die hakke van insluiting in die Shiraz SA se Top 12 Shiraz wyne is Leeuwenkuil se Heritage Syrah 2017 nou ook as een van die top 10 deur Winemag aangewys.
Dié besondere wyn uit twee top-wingerde word beskryf as ‘n “ware weerspieëling van die Swartland met die kenmerkende kombinasie uit skisgrond en inheemse Kaapse fynbos.

Dit het ‘n intense geur en met “helder suur en taai tanniene. Kompleks en kragtig.” Die kelderdeurprys is R375.
In hul notas oor die wyn sê Leeuwenkuil die oesopbrengs op dié wingerde is gewoonlik laag, maar in die 2017-droogte is nog minder druiwe geoes. Dit was ook belangrik om die regte balans tussen rypword en langer hangtyd op te weeg teenoor die moontlike langtermynskade wat die wingerdstokke kon opdoen.
Die wyn is in Junie 2019 gebottel.
Nog ‘n Swartlandse Shiraz wat deur Winemag in die Top 10 geplaas is, is Lammershoek se The Innocent Syrah 2018.
Dié wyn met ‘n kelderdeurprys van R94 word beskryf as een met “unieke aromas van rooi en swart vrugte, blomme en kruie met ryp tanniene”. Dié wyn is afkomstig van geselekteerde druiwe van drie droëlandbosstokwingerde wat tussen 15 en 50 jaar oud is.
Vir Shiraz SA se top 12-uitdaag wat sedert 2013 gehou word, het die beoordelaarspaneel onder leiding van dr. Andy Roediger die inskrywings blind geproe om eers die finaliste in elke afdeling aan te wys.

Om aan die riglyne vir Covid 19 te voldoen, moes die beoordelaarspaneel en die ondersdteunende personeel vanjaar verminder word.
Roedinger sê daar was vanjaar “meer inskrywings as 2019 ten spyte van Covid 19. Hy het bygevoeg dat die “top-dertig wyn in die hoofafdeling baie naby aan mekaar was en almal is uitstekende kwaliteit wyne. Die kompetisie was baie straf.”
Hy het gesê vanjaar se wyne is verreweg die beste wat hul die afgelope paar jaar gehad het en toon dat Suid-Afrikaanse Shiraz op gelyke vlak is met dié van ander lande.

Die beoordelaarspaneel was Edmund Terblanche (Shiraz SA se voorsitter en La Motte-keldermeester), Roediger, Charles Hopkins (De Grendel-keldermeester), Anthony de Jager (keldermeester Fairview) en Janno Briers-Louw (eienaar/wynmaker en Kaapse wynmeester van Eenzaamheid).
Terblanche het gesê dat die wyne van 2017 tot 2019 selfs beter was as dié van die 2015-oesjaar wat so hoog aangeskrewe was.

In die Winemag-toekennings is nog vier wyne uit die Swartland onder die top-Shirazwyne gelys. Hulle is Org de Rac Shiraz 2018 en Org de Rac Reserve Shiraz 2017 wat albei 90 punte behaal het, Leeuwenkuil Shiraz 2018 (89 punte) en Painted Wolf Swartland Syrah 2017 (89 punte).

Leave a Reply

error: Content is protected !!