1ste Kliënte nou op snelinternet
Hoë spoed optiese vesel-internet vir die eerste woonbuurt in Malmesbury is aangeskakel en die eerste inwoners het dit reeds begin gebruik.
Die netwerk word in fases aangelê met Tafelzicht en Panorama onderskeidelik eerste en tweede.
Konstruksie aan dié oop netwerk van Cornergate Technologies wat ook deur ander internetdiensverskaffers gebruik sal word, sal volgens die jongste beplanning in September in Panorama begin.

Daarna sal Bergzicht aan die beurt kom, sê Stiaan Carstens van Marturia, wat die konstruksiewerk behartig.
Die netwerk sal vir die ander diensverskaffers oopgestel word wanneer dit voltooi en in volle werking is.
Intussen sal inwoners van die buurte waar die netwerk aangeskakel is wel by Flynet as diensverskaffer kan inskakel. Laasgenoemde sal tydens die loodsfase as internetverskaffer optree tot die hele netwerk operasioneel oopgestel word.
Die eerste kliënt wat tuis op die net aangeskakel is, is Byron van Niekerk van Tafelzicht.

Carstens het gesê hulle sal nou blok vir blok in dié buurt die kliënte wat inteken begin aanskakel.
dié courant het vroeër berig dat pakette vir verbindings tot 200 megagrepe per sekonde (Mbps) aanvanklik beskikbaar sal wees.
Die kabel waarbinne die optiese vesel is, is ongeveer 1cm dik en daar word mangate op die sypaadjies geïnstalleer met groot wit deksels op die hooflyn en met kleiner groen deksel tussen elke twee huise.

Inwoners kry die geleentheid om tydens die konstruksiefase in hul buurt nie vir die aanlê van die netwerk na die huis te betaal nie. Installasiefooi is dan gratis.



Wanneer die kontrakteurs na die volgende fase/buurt skuif, sal die installasiefooi vir maand tot maand-gebruikers in die voltooide buurt R2400 beloop.
Flynet se maandelikse tariewe vir tuisgebruikers (nie besigheidspersele) is soos volg:
tot –
10Mb/s aflaai en 5Mb/s oplaai – R505/maand
20Mb/s aflaai en 10Mb/s oplaai – R699/maand
50Mb/s aflaai en 25Mb/s oplaai – R850/maand
100Mb/s aflaai en 25Mb/s oplaai – R999/maand
100Mb/s aflaai en 100Mb/s oplaai – R1399/maand
Groter pakette is beskikbaar op aanvraag.
Installasie is gratis vir 24 maande-kontrakte.
Vir enige aansluitingsnavraag skakel 060 999 9514.