Swart, Olivier presteer met foto’s
Op die Swartland Fotografieklub se jongste byeenkoms het Pieter Swart van Malmesbury met die louere weggestap toe sy foto, Floating, wat die wenner was in die senior afdeling, ook as aandwenner aangewys is.
Soreen Gouws van Piketberg het met haar foto, Amper Slapenstyd, die junior afdeling gewen terwyl Theuns Olivier van Tzaneen die temafdeling gewen het met sy werk, Coffee Promise. In die selfoonafdeling het Adriaan Vlok die wenfoto ingeskryf.
Herman Olivier, nog ‘n lid van die klub, het onlangs op die internasionale verhoog presteer toe twee van sy foto’s aan hom onderskeidelik ‘n medalje en ‘n “Ribbon” besorg het.
Hy het in die salon van die Illusion Macedonia International contest of Art Photography onder die vaandel van die IAAP (International Association of Art Photographers) in die natuurafdeling die IAAP Bronsmedalje met sy foto White Rhino gewen en in die landskapafdeling die IAAP Ribbon met sy foto Under a billion stars.
Die kompetisie is in samewerking met die Photographic Society of America Worldwide en die National Photo Union of Macedonia aangebied.
Vyftien van Olivier se foto’s is in ses afdelings vir internasionale aanvaardings gekeur.
Pieter Swart wat die wenfoto van die maand by die klub ingeskryf het, het ook aan dié salon deelgeneem en vyf van sy foto’s is vir internasionale aanvaardings gekeur.
Die klub vergader elke tweede Donderdag van die maand en as die Covid-maatreëls dit toelaat wel om 19:00 in die keldersaal van die Swartland NG Noordgemeente in Bergzichtstraat, Malmesbury. Die laaste paar maande het die klub virtuele byeenkomste gehou.
Belangstellendes kan die voorsitter, Adriaan Vlok, skakel by 083 707 8565.