Tafel word gedek vir SA toutrek
Werk word tans gedoen aan die arena van die Malmesbury Skougronde om die baan reg te kry vir die SA Junior Troutrekkampioenskappe aanstaande jaar op Malmesbury.
Dié byeenkoms is in 2012 ook op die dorp gehou en vind gewoonlik in Maart plaas.
Vanjaar se kampioenskappe is by Drostdy op Worcester gehou.

Bennie Geldenhuys het aan dié courant bevestig dat dit geoormerk is om aanstaande jaar weer op Malmesbury plaas te vind, maar as gevolg van die Covid-pandemie kon ‘n datum nog nie bevestig word nie.
Hy het bygevoeg dat die skoolkwartale eers vasgestel moet word, alvorens die datum vir die kampioenskap bepaal sal word.
dié courant het in 2012 berig dat meer as 200 spanne van ongeveer 40 skole van regoor die land saamgetrek het om aan die kampioenskap wat toe vir die eerste keer op Malmesbury gehou is, deel te neem.
Die byeenkoms het ook duisende toeskouers gelok. Dit is oor drie dae beslis met die inweeg en registrasie wat die eerste dag in beslag geneem het.
Geldenhuys is ‘n bekende in toutrekkringe. Hy het Suid-Afrika in dié sport verteenwoordig. Hy was lid van die SA-span by die wêreldkampioenskappe in Switserland waar hulle ‘n vierde plek verower het en is ook in 2012 as WP Toutrek se Senior Sportman van die Jaar aangewys.

In ‘n onderhoud met dié courant het hy verduidelik dat die “groot geheim in toutrek lê in die spanwerk. Verder is die aanvoerder van elke span baie belangrik, want hy moet die opponerende span kan lees en die ritme en spanwerk van sy eie span bestuur.”