Latest

Plan om 100t indringers/dag te brand

Die eerste sooi is vandeesweek in die Swartland gespit om moontlik die grootste houtskoolproduksiefasiliteit in die suidelike halfrond teen ‘n koste van R150 miljoen op die wal van die Bergrivier op te rig.
Die beplanning is om sowat 10 000 ton houtskool per jaar te produseer.
Die plantegroei/hout wat verwerk sal word, is grotendeel bloekom en swartwattel.

Die projek van die Toronto-groep op die plaas Grensplaas (op die grens van die Swartland Munisipaliteit naby Wellington waar die Doringrivier in die Bergrivier vloei) sal deur Lesedi Nuclear Services bestuur word.
Die uitvoerende hoof van die Toronto-groep, Phillip Mulungo, sê die fasiliteit sal koolstofneutraal wees en die eerste in sy soort wat houtskool vervaardig uit dié uitheemse indringerspesies.
Hy het bygevoeg dat die maatskappy aan die Forest Stewardship Council (FSC) se regulasies voldoen, wat die ketting van bewaring van hout beheer om naspeurbare houtbronne te verseker sonder skade aan die omgewing.

Die uitvoerende burgemeester van die Swartland Munisipaliteit, Tijmen van Essen, het aan die sooispitseremonie deelgeneem.
Hy het gesê die owerheid is trots om deel uit te maak van die oplossing vir toekomstige watervolhoubaarheid en om by te dra tot werkskepping. “Die verwydering van indringerplante bied verskeie sosiale ekonomiese en omgewingsvoordele.”

Die nasionale adjunkminister van handel,
nywerheid en mededinging, Fikile Majola

Die nasionale adjunkminister van handel, nywerheid en mededinging, Fikile Majola, het die sooispitseremonie virtueel bygewoon.
Toronto is ‘n begunstigde van die Black Industrialists Scheme (BIS) van die departement.

Majola het verduidelik dat die BIS die Toronto-groep ondersteun met kapitaalbefondsing van R50 miljoen vir besigheidsontwikkeling en die aankoop en installering van moderne kapitaaltoerusting om houtskool van hoë gehalte te vervaardig.
Die konstruksie van die 3040m²-fabriek sal na verwagting agt maande duur.
Die 4 hektaar waar die fabriek, waarvan die planne pas deur die Swartland Munisipaliteit goedgekeur is, gebou gaan word, is nie voorheen vir intensiewe landbou gebruik nie.
Die houtskool word vervaardig deur die rou materiaal stadig by baie lae suurstofvlakke te verhit en die proses vir sogenaamde karbonisasie te staak voordat dit tot as verander. In die proses word dan houtskool (en poeier) – ongeveer 25% van die oorspronklike gewig – verkry.
Die houtskool sal van so ‘n hoë gehalte wees dat dit kan gebruik word vir die suiwering van water.

Die uitvoerende hoof van die
Toronto-groep, Phillip Mulungo

Toronto is reeds vroeër deur die departement van omgewingsake aangestel om uitheemse spesies en indringerbome, wat onder meer ‘n bedreiging vir watersekuriteit, die ekologiese funksionering van natuurlike stelsels en die produktiewe gebruik van landbougrond inhou, op die oewer van die Bergrivier te verwyder.

Mulungo het aan dié courant gesê die voltooiing van die aanleg binne die beraamde agt maande sal onderhewig wees aan onder meer Covid-regulasies, “maar ons hoop” om dit oor agt maande operasioneel te hê. Die maatskappy finansier self die balans van R100 miljoen vir die projek.
Hy sê net meer as 100 ton hout sal per dag na die aanleg vervoer word.
Naas die houtskool sal die aanleg ook biochar (‘n stof wat landbougrond gebruik kan word) en geaktiveerde houtskool lewer.

Die operasionele bestuurder, Marcus Mlungo, het aan dié courant gesê daar is ‘n groot bron van indringerplante wat verwerk met word en kan Toronto in ‘n radius van 150km werk.
Hy het bevestig dat daar ongeveer 150 direkte werksgeleenthede en 70 indirekte werksgeleenthede geskep sal word.
Mlungo sê hulle sal die volle geskatte 10 000 ton houtskool per jaar na Europa uitvoer, maar ondersoek ook die moontlikheid van binnelandse markte.

Leave a Reply

error: Content is protected !!