Jong Darlingskrywer maak debuut
‘n Jong debuutskrywer van Darling het besluit om aan die diepkant van uitgewery in te spring en haar debuutroman self te publiseer.
Cenilian Pidt sê sy het lank gewik en weeg, maar besluit om dié roete te gaan eerder as wat die manuskrip straks lank in ‘n laai lê, voor dit aanvaar en gepubliseer word.
My donkerste geheim is ‘n Weskusverhaal vol intrige. Soveel het verander nadat die plaaslike polisiestasie ‘n nuwe lid gekry het. Karmien kom toe juis deur ‘n donker tyd in haar lewe nadat sy swanger geraak het as ‘n tiener met haar eerste baba.
Sy het aan depressie en angs gely weens emosionele en fisiese mishandeling.
Die nuwe polisieman het haar weer kom oplig maar terselfdetyd is sy weer deur die lewe platgeslaan.
Toe kom ‘n ander tot haar redding, of nie? ‘n Liefdesdriehoek en skoonfamilie se gebrek aan aanvaarding van ‘n kleinkind en… ‘n telefoonopname.
Pidt sê die roman het ‘n “lewensles wat mans en vroue raak. “As mans vroue beter behandel, sal daar nie sulke probleme in die huwelik ontstaan nie.”
“Die storie speel af op Darling en ‘n bietjie op Yzerfontein waar die talentvolle Karmien by die see gaan sit wanneer sy bedruk voel.”
Pidt was in Vooruitsig Primêr en later aan Proteus Sekondêr op Atlantis en het altyd pryse losgeslaan vir kuns op skool. Haar droom was altyd om haar eie besigheid te besit.
Sy het ná skool ‘n kleuterskool begin, maar dit was nie so ‘n groot sukses nie.
Sy het toe in ‘n oproepsentrum gewerk en daarna as eiendomsagent en het vroeg vanjaar bedank en besluit om voltyds huisvrou te wees. Sy vertel sy beplan ook reeds aan haar tweede roman.
‘n Vriendin het haar aangemoedig om die debuutroman te skryf.
Sy sê sy het besluit om die boek self te publiseer omdat, “ek baie nagte deur gewerk het om dit klaar te kry.
“Dit is baie duur om self ‘n boek uit te gee. Ek weet ‘n mens moet ‘n bietjie geduldig wees, maar ek wil die boek graag uitkry. Dit voel vir my dit is baie meer die moeite werd, veral met al die werk wat ek daarin gesit het.”
Toe dié courant vroeër met haar gepraat het, het sy gesê sy “stoei nou om dit op die rakke te kry …”
Maar die goeie nuus is dat die selfuitgewersmaatskappy aan dié courant bevestig het die boek binne dae na die drukkers kan gaan en dan oor twee of drie weke beskikbaar kan wees.
Sy ondersoek ook die moontlikhede om die boek as ‘n e-boek beskikbaar te stel.