Swartlandse wyne onder Pinotage-finaliste
Twee wyne van Swartlandse druiwe is ná die uitdunrondes in die jaarlikse SA Pinotage Top 10-kompetisie onder die 20 finaliste geplaas vir dié eg Suid-Afrikaanse variëteit.
Pulpit Rock buite Riebeek-Wes se Brink Family Vineyards Swartland Pinotage 2018 en Glen Carlou se The Glen Carlou Collection 2019 Pinotage sal nou saam met die ander finaliste meeding om ‘n plek in die Absa Top 10.
Pulpit Rock se finaliswyn is deur wynmaker Dewald Huisamen gemaak, terwyl die wyn van Glen Carlou van Swartlandse druiwe deur wynmaker Johnnie Calitz gemaak is. Van laasgenoemde wyn van verlede jaar se oes is daar ‘n beperkte 1200 bottels gemaak.
Die kompetisie is nou in die pylvak en die wenners van die 24ste jaarlikse Top 10 Pinotage sal teen die einde van aanstaande maand aangekondig word.
Daar was vanjaar 149 inskrywings vir dié gewilde kompetisie, te midde van Covid-pandemie slegs ‘n raps minder as die aantal inskrywings van verlede jaar. Die paneel van kundiges wat die wyne beoordeel het, was: Kaapse wynmeester en sameroeper Winnie Bowman; Tsogo Sun-sommelier Georgio Meletiou, Spier-keldermeester Frans Smit, wynskrywer Fiona McDonald en die wynboukundige Solly Monyanane.
Die wenners word aan die einde van September aangekondig. Meer besonderhede sal mettertyd aangekondig word, met inagneming van die Covid-inperkingsregulasies.
Die ander finaliste in die kompetisie is: Aan de Doorns Pinotage 2018; Anura Signature Pinotage 2017; Beyerskloof Diesel Pinotage 2016 & 2017; Beyerskloof Pinotage Reserve 2017; Conradie Family Vineyards Pinotage 2019; Delheim Vera Cruz Pinotage 2016; Diemersdal The Journal Pinotage 2018; Durbanville Hills Collectors Reserve Pinotage 2017; Kaapzicht Pinotage 2018; Rijk’s Reserve Pinotage 2015; Rijk’s Private Cellar Pinotage 2014; Simonsig Redhill Pinotage 2018; Spier 21 Gables Pinotage 2017; Springfontein Single Vineyard Jonathan’s Ridge Pinotage 2016; Viljoensdrift River Grandeur Single Vineyard Pinotage 2018; Wellington Wines’ La Cave Pinotage 2018 en Windmeul’s The Legend Collection Pinotage 2018.