Nog reëns vir September voorspel
Met graantoestaande wat steeds goed lyk in die streek, is daar ook vooruitsig vir nog reëns gedurende September.
Die bekende landbouweerkundige Johan van den Berg sê in die jongste skrywe van die Swartland Wyn- en Olyfroete die grootste deel van die winterreënvalgebied het bogemiddelde reënval gekry sedert die begin van die winterreënvalseisoen.

“Kort- tot mediumtermyn vooruitsigte bly positief vir verdere reën tot die einde van September met ten minste vier of vyf moontlike reënvalgebeurtenisse. Reënvalhoeveelhede gaan begin afneem en reënvalgebeurtenisse begin minder word.”
Hy sê die reënvaltoestande vir byna die hele winterreënvalgebied was beter as wat voorspellings aangedui het. “Dit is baie betekenisvol dat bogemiddelde reënvalhoeveelhede ook in die droogtegeteisterde gebiede van die westelike dele van die Noord- en aangrensende Weskaap voorgekom het op plekke soos Springbok, Garies, Kamieskroon, Nieuwoudtville en verder suid by Clanwilliam en ook meer na die binneland. Dit was die meeste reën wat gemeet is sedert ongeveer 2012 in hierdie gebiede.”
Daar is wel streke wat steeds droog is.

“Die winter van 2020 was een van die koudste in ten minste die laaste twee dekades. Dit is moontlik ‘n aanduiding van ‘n verandering in die klimaat vir die komende paar seisoene,” het hy bygevoeg.
“Die status van oppervlakwater is in ‘n redelike goeie toestand, veral in die Wes-Kaap maar damme in die Oos-Kaap, die Vaaldam sowel as damme in die noordelike dele van Limpopo (Tzaneen) is kritiek laag.”