Só lyk 1ste teaterseisoen by Rata
Die tafel is nou behoorlik gedek vir ‘n opwindende kuns en kuns en teaterseisoen hierdie somer in die Riebeekvallei.
By ‘n bekendstellingsgeleentheid gisteraand is die program vir beide die Royal Arts Town-amfiteater (Rata) se eerste seisoen sowel as Solo Studios 2020 bekend gemaak.
Solo Studios is weens die Covid-pandemie tot in Desember (11-13) uitgestel, maar vanjaar se program beloof opnuut om kuns in die vallei tot nuwe hoogtes te neem.
Saam word als onder die sambreel van die nuwe Arts Town Riebeek Valley-beweging aangebied.
Rata se teaterseisoen onder die direkteurskap van Mark Graham-Wilson skop om 13 November af met die premiére van die nuwe Clare Stopford-verhoogstuk, Covid Moons.
Dit handel oor twee jongmense (’n effe eksentrieke Afrikaanse kunsstudent en haar jong swart diamant uit Gauteng) wat op die splinternuwe, onbekende terrein van Covid 19 hul pad vir ‘n nuwe verhouding sonder aanraking en intimiteit moet vind en uitkap om mekaar op ‘n unieke manier te ontdek.
Stopford sal ook die regie van Covid Moons behartig met stelontwerp deur Graham-Wilson. Dié verhoogstuk is op 20 November ook by Rata op die planke. Een van die bekende akteurs wat bygedra het tot die teks van Covid Moons is Khatu Ramabulana.
Daarna op 4 Desember is aktrise, radio- en TV-persoonlikheid Lynita Crofford op die verhoog met die bekroonde vertoning “An Audience with Miss Hobhouse.”
Emily Hobhouse het bekendheid verwerf toe sy die haaglike toestande en behandeling van die Boerekrygsgevangenes deur die Britte met die draai van die 20ste eeu onder die aandag van haar eie mense gebring het.
Die produksie is geskryf deur Tony Jackman en staan onder regie van Christopher Weare.
Tydens die Solo Studios-naweek (11 Desember) sal plaaslike kunstenaars soos digter Donker Jonker en Georick Veltman (The Mirror Sister) onder regie van Graham-Wilson by Rata optree.
Donker Jonker
In die laaste optrede van die jaar (18 Desember) bring David Muller sy vertoning, Oom Schalk from the Heart, na die vallei.
Die legendariese stories van Oom Schalk Lourens uit die pen van Herman Charles Bosman staan onder regie van Celia Musikanth.
Vroeg in die nuwe jaar (8 Januarie) word die teaterseisoen by Rata hervat met Roger Lucey se “How to build a Mountain.” Dié internasionaal bekende musikant, liedjieskrywer, storieverteller, joernalis , rolprentmaker en vryheidsaktivis het reeds oor die wêreld opgetree. Lucey het ook al ‘n Sama vir sy lewensbydrae tot musiek ontvang. Hy vertel op unieke wyse sy storie van verbanning en teistering …tot vryheid en vrede.
Nog gewilde akteur en TV-aanbieder Hannes van Wyk is op 5 Februarie by Rata met sy eenmanstuk “Sê Groete vir Ma”. Dié stuk vir die hele familie, geskryf deur Desire Gardner, vertel die storie van ‘n sensitiewe kind wat op ‘n plaas grootword saam met sy gesin – pa, broer en sy ma, die spil waarom sy lewe draai, asook sy hoender. Daar is liefde, humor en die realiteit van ouderdom en siekte. Dit staan onder regie van Sandra Prinsloo.
Op 5 Maart is nóg ‘n bekroonde musikant en akteur Godfrey Johnson te sien in The Shadow of Brel.
Johnson bring van die Franse meester se grootste en klassieke asook minder bekende werke na die vallei en sluit ‘n paar van sy eie werke ook in. Die regisseur is Sanjin Muftic.
Die volgende werk op die program is Conc the Karoo clown op 1 April deur Mark Conc Colli.
Die liefdevolle nar, met bykans 50 jaar se ondervinding as ‘n nar, jaag skoenlappers en pak sy tasse van lag uit terwyl ‘n wêreld van toertjies ontvou.
‘n Verdere twee produksies wat vir 16 en 30 April 2021 beplan word om die seisoen af te sluit, sal later aangekondig word.