Solo Studios 2020 program bekend
Solo Studios in die Riebeekvallei, onder leiding van Klaus Piprek, vier vanjaar sy 5de jaar en spog weer met ‘n vol program vir die kunsliefhebber.
Nie alleen gooi 17 kunstenaars weer van 11 tot 13 Desember hul ateljees vir besoekers oop nie, maar daar is ook ‘n verskeidenheid optredes en geleenthede om kos en wyn op ‘n nuwe manier te ervaar.
Daar is ook ses standplase waar groepuitstallings en demonstrasies gehou sal word.
Die kunstenaars wat ateljees vanjaar oopgooi, is Antoinette von Saurm, Anton Momberg, Sharon Bischoff, Tamlin Blake, Jenny Parsons, André François van Vuuren, Tanya Majo, Wiehan de Jager, Anthony Harris, Emma Willemse, Solly Smook, Gordon Williams, Louisa Gerryts, Greta McMahon, Riaan van Zyl, Ade Kipades en Claudia Gurwitz.
Die groepuitstallings en demonstrasies sal by Pictorex Photographic Gallery & Print Studio, RK Contemporary, So Clay, The Artery, The Gallery en The Hub plaasvind.
Die kort begeleide staptoere na van die gallerye is nou reeds ‘n gevestigde instelling en so ook die kunslesings op die program.
Op die program is ook Solo Kitchens waar van die vallei se top-sjefs gaste na hul kombuise nooi om aan te sit vir ‘n unieke koservaring. Die kuns van wyn word ook gevier met ‘n unieke reeks praatjies en proeë deur van die voorste wynmense en -makers in die streek.
Solo Sessions is musiekoptredes deur van die plaaslike kunstenaars propvol talent en daar is ook ‘n gemeeenskapsteaterprojek, The Olive Branch Project, wat dié talent met optredes sal uitleef.
Onder die ander hoogtepunte op die program tel die Avant Garde-teateroptredes in die Rata (Royal Arts Town-amfiteater).-
Middelman (‘n musiek- en woordkunsproduksie van gedigte deur Rudolph Willemse opgevoer deur Marcel van Heerden en vriende);
Donker Jonker (die digter bring sy nuutste woordkuns-teaterproduksie op die planke met Mark Graham-Wilson as regisseur);
The Harlequin’s Needle (‘n uitvoering deur The Mirrorsister waar projeksies letterlik en figuurlik met spieël en monoloog saamgevoeg word) en
Pleasure (‘n werk met liggaam, geprojekteerde beelde, skaduwee en …plesier.)
Daar is ook weer optredes oor die naweek deur die immergewilde Steel Band.
Meer inligting oor Solo Studios is beskikbaar by www.solostudios.co.za