Swartland FK gasheer vir internasionale fotosalon
Die Swartland Fotografieklub, wat verlede jaar sy 10de jaar sedert die herlewing van die klub gevier het, bied in Oktober ‘n internasionale salon aan.
‘n Salon is ‘n fotografiekompetisie. Sedert die 17de eeu tot in die 20ste eeu is fotouitstallings in Frankryk gehou en dit is salonne genoem.
Foto’s is gekeur volgens die beperkte muurruimte wat beskikbaar was vir die uitstallings.
Dié term word vandag nog gebruik vir top-nasionale en -internasionale kompetisies en word daar, soos met die keuring weens beperkte muurruimte, slegs ‘n gedeelte van die beste inskrywings gekeur.
Dit word aanvaardings genoem.
Die Swartland Fotografieklub het die afgelope klompie jare nasionale salonne vir fotograwe in Suid-Afrika aangebied, maar vanjaar se salon is oop vir fotograwe oor die wêreld.
Dit vind onder die beskerming van die internasionale liggaam FIAP (Federation Internationale De L’Art Photographique) en die PSSA (Photographic Society of South Africa) plaas.
Die kompetisie bestaan uit ses kategorieë (vier vir digitale foto’s en twee vir gedrukte foto’s) en vir elke kategorie is daar drie ervare beoordelaars wat hulself al met hul eie werk op internasionale vlak onderskei het.
Daar word gewoonlik etlike duisende foto’s ingeskryf en is dit nie so maklik om onder die top inskrywings te eindig nie.
Inskrywings vir die 1ste Swartland Internasionale Salon sluit op 3 Oktober 2020 om 23:59.
Foto’s kan benoem word vir aanvaardings – ongeveer die beste 20% van die foto’s in elke kategorie.
Die heel beste inskrywings (ongeveer 2%) ontvang merietesertifikate (COM – certificate of merit).
Daar is nie pryse op die spel nie, maar slegs plekke en medaljes vir die wenners.
Fotograwe kan as klublede of individue aan salonne deelneem. Daar is ook binnelands ‘n spesiale tarief vir diegene wat lid is van die PSSA.
Daar is ‘n lys van nasionale en internasionale salonne op die PSSA se webwerf (www.pssa.co.za) waaraan fotograwe kan deelneem.
Salonne kan verskillende reëls hê en is dit belangrik dat deelnemers die reëls en voorskrifte van elke afdeling, wat per kategorie kan verskil, noukeurig volg om die risiko van diskwalifikasie uit te skakel
Beoordeling vir die 1ste Swartland Internasionale Salon vind op 10 en 11 Oktober by die Cape Town School of Photography plaas en die uitslae word op 25 Oktober na deelnemers gestuur.
Daar is duidelike instruksies op die webwerf oor hoe om in te skryf.
Die inskrywings vind via ‘n internetportaal Photovault plaas. (www.photovaultonline.com)
Fotograwe registreer gratis daarop.
Die ses kategorieë is: Nature (digitaal – slegs volkleur); Scapes (digitaal – slegs volkleur); Open (digitaal – slegs volkleur); Open (digitaal – slegs monochroom); Open (afdruk – slegs volkleur) en Open (afdruk – slegs monochroom).
Die inskrywingsfooi vir elke salon wissel en ook na gelang van die aantal foto’s/kategorieë waaraan die fotograaf deelneem.
Die salondirekteur vir die Swartland Ftoografieklub se eerste internasionale salon is Peter Hardcastle.
Besoek gerus die klub se webwerf: (swartlandphotoclub.co.za) vir meer inligting.