Latest

Swartland spog met ‘beste rooi, wit in SA’

Die Swartland het rede om ‘n glasie te klink nadat die streek pas die enigste twee wyne (wit en rooi kultivars) in die land opgelewer het wat 100 punte kon aanteken in die Brit Tim Atkin se jaarlikse verslag oor Suid Afrikaanse wyne.

In vanjaar se verslag, wat alom as een van die mees omvattende oor die plaaslike bedryf beskou word, was dit slegs die tweede keer dat Atkin ‘n volmaakte 100 punte aan sogenaamde nuwewêreldwyne toeken en wel aan ‘n wit en ‘n rooi van onderskeidelik Eben Sadie en Porseleinberg.
Die 2019 Sadie Family Skurfberg Chenin Blanc wat as algehele witwynwenner aangewys is, is in die Swartland vervaardig van druiwe uit die Olifantsrivier.
Porseleinberg se 2018 Syrah het ook 100 punte verwerf en is as algehele rooiwynwenner aangewys.

Die enigste vorige nuwewêreldwyn wat Atkin volpunte gegee het, was in 2018 aan Kanonkop se Paul Sauer 2015.
Aitkin sê van die beste wyne in die land se wyngeskiedenis word tans hier gemaak.
Hy sê dit is verblydend om te sien hoe die standaard van goeie wyne hier toeneem.
Dié twee “besondere wêreldklaswyne” is egter nie waar die Swartland se sukses in vanjaar se verslag eindig nie.
Die Jong Wynmaker van die Jaar-toekenning gaan aan David en Nadia Sadie van David & Nadia terwyl die Riebeek Valley Wine Co as die beste Koöperatief aangewys is.
In die afdeling vir die Beste Waarde Rosé van die Jaar het Meerhof met hul 2019 Grenache Rosé stof in hul kompetisie se oë geskop en met die louere weggestap.

Leave a Reply

error: Content is protected !!