Plaaslike tegnici opgelei vir Rata-teater
Met die nuwe amfiteater op Riebeek-Kasteel waar die eerste teaterseisoen oor minder as ‘n maand open, is ‘n uitgesoekte span druk besig met tegniese opleiding.
Mark Graham-Wilson, teaterdirekteur, vertel hulle het besluit om inwoners van die vallei die geleentheid te bied om deel van die teater se tegniese span te word en daar is 8 kandidate uit die aansoeke gekies.
Die intensiewe opleiding vind oor vier dae by die Royal Arts Town-amfiteater (Rata) plaas. Die kursusleier, Namhla Kalipa-Tunyiswa, is ‘n ervare klank- en beligtingstegnikus in die teaterwêreld.
Besprekings vir die vertonings by Rata kan reeds gedoen word by https://artstown.co.za/book-now/
Die seisoen sal open met die premiére van die splinter nuwe toneelstuk Covid Moons deur Clare Stopforth.
Die hoofrolle word vertolk deur Sipumziwe Licwaba en Nicol Steyn.
Die amptelike speelvak begin op 13 November met vier vertonings – 13, 14, 20 en 21 November.
Daar is ook ‘n voorskou op 12 November.
Die stuk word só beskryf: ‘n Insiggewende blik op die eerste paar dae van ons nuwe wêreldorde. Nadat ons in die Covid-19-sluiting gedompel is, hou Covid Moons ‘n komiese, aangrypende en ontroerende spieël na ‘n baie onlangse kollektiewe menslike ervaring.
Op 4 en 5 Desember volg die optrede van bekroonde Lynita Crofford: An Audience with Miss Hobhouse.
Die derde vertoning in die eerste seisoen en ook die laaste vir 2020 is dié op 18 en 19 Desember met David Muller se produksie met klassieke Bosman-verhale: Oom Schalk from the heart.