EntertainmentFEATURED

De Jager neem beste kosfoto

Hersia de Jager van Riebeek-Wes het die louere ingeoes op die Swartland Fotografieklub (SFK) se klubkompetisie vir Februarie met haar foto Lus om te eet.
Die tema vir die maand was kosfotografie en De Jager het met haar foto ook dié tema-afdeling sowel as die junior kategorie gewen.

In die senior afdeling het Peter Hardcastle van Malmesbury met sy foto Chocolate Galore die eerste plek behaal, gevolg deur nog twee foto’s met dieselfde punte, Garlic (ook deur Hardcastle) en Mystery Path (deur Theuns Olivier van Tzaneen).

Chocolate Galore ©Peter Hardcastle
Garlic ©Peter Hardcastle
Mystery Path ©Theuns Olivier

Daar is ook ‘n afdeling vir selfoonfoto’s en daar het Adriaan Vlok van Malmesbury die hoogste punt behaal met sy foto Silos.
Die beoordelaar van die aand was Celia Fouche van Somerset-Wes.

Silos ©Adriaan Vlok

Hardcastle, ‘n meesterfotograaf by die klub, het ook onlangs aan twee internasionale kompetisies (salonne) deelgeneem en op die Miracle Image 7de Internasionale Salon 2021 en Miroc se 9de vierhoekige salon vir 2021 onderskeidelik 2 en 15 aanvaardings gekry. Dit beteken dié foto’s sou gekeur word vir uitstalling sou daardie salonne foto-uitstallings hou.
Belinda Ruhl, voorsitter van SFK, het op die virtuele byeenkoms gesels oor die klub se beplanning vir die jaar en verskeie fotowerkwinkels en uitstappies word beplan.

Die klub se tema vir Maart is Kleurvolle Emosie gevolg deur Paasfees vir April en voëlfotografie in vir Mei.
Daar word ‘n uitstappie oor voëlfotografie beplan vir 10 April.
Belangstellendes wat by die klub wil aansluit, kan Ruhl skakel by 066 237 5107.

Leave a Reply

error: Content is protected !!