Merkwaardige heelword-storie ontvou by Rata
Onder die sterrehemel ontvou die storie vanaand van ‘n besondere Suid-Afrikaanse musikant, joernalis, filmvervaardiger en akteur, nou in sy sestigs, wat die prys wat hy as aktivis betaal het, agter hom kon sit.
Roger Lucey se eenmanvertoning How to Build a house in the Mountains by die Royal Arts Town-amfiteater (Rata) op Riebeek-Kasteel vertel die merkwaardige storie van terapie en heling in die bou van sy eie sandsakhuis in Bainskloof 25 jaar gelede.
Hy het in die sewentigerjare as jong musikant in Durban liedjies begin skryf en opgetree.
Vroeg reeds het sy musiek die sosiale en politieke omstandighede aangespreek. Hy het later na Johannesburg verhuis en sy eerste album The Road is Much Longer in 1979 opgeneem.
Dié album is verban en so ook sy tweede Half A Live. Sy loopbaan is deur die veiligheidspolisie kortgeknip. Die wyse waarop hulle te werk gegaan het, het later in getuienis voor die waarheids- en versoeningskommissie afgespeel.
Lucey vertel hy moes die huis eiehandig gaan bou om homself te heel en die bitter te begrawe.
Hy kon toe weer sy kitaar opneem en begin musiek maak.
Die veiligheidspolisieman wat verantwoordelik was om sy loopbaan van protesmusiek te kelder, het later jare kontak gemaak en hom om verskoning gevra. Ondenkbaar, maar Lucey sê hulle is vandag vriende.
Hierdie storie word vanaand stukkie vir stukkie voor ‘n klein gehoor oopgebreek terwyl die somerwind stelselmatig gaan lê oor Rata en die Riebeekvallei.
How to Build a house in the Mountains is as’t ware sy lewensreis oor 40 jaar – soms ‘n wilde uitdagende rit wat uiteindelik op stille waters begin vaar het. Lucey ruil sy kitare terwyl hy die storie meesterlik met woord, musiek en sang vertel.
Dié liedjieskrywer/komponis, wat deesdae in Napier woon, het reeds verskeie albums opgeneem.
Hy was ook TV-joernalis en kameraman en het onder andere verskeie dokumentêre programme gemaak en toneelstukke geskryf.
Rata as teater bied volop ruimte en vars lug. Die klipsirkels van die Stone Circle-projek is ook nog steeds daar om by te dra.
Lucey se vertoning môreaand 13 Februarie begin ook om 20:15. Dit gee genoeg tyd om weer tuis te kom voor die aandkloktyd van 23:00.
Daar is nog kaartjies beskikbaar. Bespreek by https://artstown.co.za/book-now/