Landbou, toerisme groot werkskeppers – Winde
“Landbou en toerisme is twee van die voorste werkskeppende sektore in die Wes-Kaap.
Só het die provinsie se premier, Alan Winde, gesê toe hy die Groote Post-landgoed buite Darling besoek het.
“Dit is belangrik dat ons hierdie bedrywe sal ondersteun sodat hulle kan groei en meer werk kan skep.”
Winde het bygevoeg dat hy “ verheug was om te sien dat die eienaars en bestuur van Groote Post net so toegewyd is om werksgeleenthede op hul plaas te beskerm as wat die provinsie is om die werksgeleenthede in dié bedryf te help red. ”
Die provinsie se landbouminister, dr. Ivan Meyer, het die premier vergesel . Hulle het in die wingerde saam sauvignon blanc met die hand gepluk en die kelder besoek. Die landgoed het ook private wildritte en ‘n restaurant, vernoem na die bekende Hildagonda (Hilda) Duckitt.
Meyer het gesê: ‘Vandag het ek die eienaars en werkers van Groote Post se passie vir landbou gesien van. Dit is die mense wat ekonomiese groei in die Wes-Kaap dryf. ”
Groote Post se eienaar, Nick Pentz, het bygevoeg: “Namate die oes einde se kant toe staan, sal ons baie besig wees om ons wyne gereed te kry om in die mark vrygestel te word.
“Met die verslapping van die inperkingsmaatreëls sien ons uit na ‘n hernude waardering vir ons wyne deur verbruikers, en om te sien hoe wynliefhebbers weer na die platteland ontsnap om alles te geniet wat ons by Groote Post bied.” – (mediaverklaring)