Muurskilderye: Kunstenaar(s) onbekend

Geskiedenis- dié courant kyk terug

Die plaas Rozenburg het ‘n nagevorsde geskiedenis wat langer is as baie van die Bybelse geslagsregisters.
Die plaas grens vandag aan Malmesbury.
Die Van der Westhuijzen-familie se vyfde geslag woon tans daar en inwoner en besoeker besef terdeë: Op dié plaas asem ‘n mens geskiedenis in!
Die plaas is in 1707 deur Willem Adriaan van der Stel uitgegee aan die eerste eienaar, Paulus Heijns.

In 1818 het ene Daniel du Toit die plaas gekoop en die woonhuis in 1838 verbeter, soos steeds op een gewel geskryf staan.
Sedert 1898 woon die Van der Westhuijzen-familie hier. Besondere geskiedkundige bakens is daar baie, soos die reuse-akkerboom wat volgens oorlewering in WA van der Stel se dae geplant is, die historiese trekpad loop ook oor dié grond, die huidige Joodse begraafplaas is grond wat deur ‘n Van der Westhuijzen-voorsaat geskenk is…

Binne die huis bevestig outentieke meubels, houtdeure en plafonne dié historiese verhaal. Van die meeste aanbouings is daar mondelinge verhale, maar oor die agt groot muurskilderye in die sogenaamde ‘skildersaal’ aan die suidekant van die huis, bestaan daar geen rekord nie.
Dié skilderye beeld Europese tonele uit, met diere, kastele ‘n klein mannetjie wat ‘n reuse-vis vang en die pars van druiwe.
“Dié skilderye het veral vir die kinders van die familie gesorg vir ure se pret en fantasieverhale,” vertel Anna van der Westhuijzen, getroud met Pieter (die derde geslag op die plaas).

Hoewel die familie al baie navrae gedoen het oor dié einste skilderye en hul instandhouding, kon hulle nog nêrens kundige raad kry daaroor nie.
Sommige skilderye is beskadig tydens die Ceres-aardbewing van 1969 en tans veroorsaak rysmiere ook skade. “Die kleure begin al donkerder raak, maar ons kry niemand wat goeie raad kan gee nie,”sê Paulina, getroud met Uys, die vierde generasie Van der Westhuijzens.”
Daar is ook geen rekord oor wie dit kon geverf het nie, maar gerugte wat sterk loop, is dat dit Italiaanse krygsgevangenes was.”

Dr. Matilda Burden, senior navorser en kultuurhistorikus van die Universiteit Stellenbosch-museum, het dié skilderye onder oë gehad en reageer só: “Daar is baie meer van hierdie muurskilderye in die Wes-Kaap as wat ‘n mens dink. Die meeste is sekerlik toegeverf of onder lae muurpapier.
“Die bekendste muurskilderye is te sien by Rust en Vreugd in Buitekantstraat in Kaapstad en Uitkijk op Stellenbosch – hierdie is die twee heel oudste skilderye. Die bekende plaas Libertas buite Stellenbosch (eers in besit van Adam Tas) se muurskilderye is in die laat 1700’s geverf.
“Die eienaars van Libertas, die Blake-familie, het navorsing daaroor gedoen en vertel dat ene Hartman die skilder daarvan was. Hy was glo destyds bekend vir sy muurskilderye. “Ons moet onderskei tussen die verf van randpatrone en skilderye. In Boschendal en Calitzdorp is daar ook pragtig geverf, maar dit is eerder randpatrone en nie tonele nie.

“In die Langkloof het ek die mooiste Europese tonele in ‘n huisie gesien, so is daar ook buite Nieuwoudtville muurskilderye (randpatrone).” Burden se gevolgtrekking is dat dié skildermeesters mense was wat, soos die skoolmeesters van die ou dae, rondgetrek het om hul dienste aan te bied teen vergoeding.
“As die plaas Rozenburg reeds vanaf 1898 aan dieselfde familie behoort, sou hulle sekerlik geweet het as daar Italiaanse krygsgevangenes in die tyd van die tweede wêreldoorlog op die plaas was. Daar was nie Italiaanse krygsgevangenes tydens die eerste wêreldoorlog in ons land nie,”aldus Burden.
“Die skilderye van Rozenburg lyk ook baie ouer as sewentig jaar gelede se werk.” – (dié courant, 13/4/11)

Leave a Reply

error: Content is protected !!