Rata se eerste seisoen met Eerstemense afgesluit

Die splinternuwe toevoeging tot die Swartland se kuns- en kultuuraanbieding, die Royal Arts Town-amfiteater (Rata) wat midde die Covid-inperkings geopen is, kan ná die baanbrekende eerste somerseisoen nou amper ‘n winterrus beleef.
Maar eers is daar nog die eenmanstuk van Donker Jonker, Eerstemense, wat hy aanstaande naweek op die planke bring met regisseur Mark Graham-Wilson.

Eerstemense is die verhaal (amper in kortfilmstyl met ‘n hoë impak wat jou kragdadig dwing tot nadenke) van ‘n fassinerende karakter uit die toekoms (of is dit straks die verlede?) wat in die Riebeekvallei land en ‘n klomp kwessies as’t ware kom oopbreek…
Met Rata wat onder leiding van Graham-Wilson (deurwinterde teatermens), en ‘n paar lede van die plaaslike kunsgemeenskap en hoteleienaar Robert Brendell tot stand gekom het, is die afsluiting deur plaaslike mense dus só gepas.

Rata huisves ook die Stone Circle-projek met die Boat Circle langsaan wat deur die jong kunstenaars van The Arteri en Emma Willemse geskep is.
In ‘n tyd wat die teaterbedryf erg onder Covid-regulasies gebuk gegaan het en steeds swaar trek, was Rata ‘n baanbreker. Nie alleen kon teater (weliswaar met beperkings) hier voortgaan en ‘n vlam van hoop vir kunstenaars lewend hou nie, maar dit het ook aan teatergangers ‘n broodnodige antwoord gebied om ‘n leemte te help vul.
Die installasie van die klipsirkels was ook ‘n kardinale hulpmiddel om juis die afstand wat Covid-regulasies bepaal, te help implimenteer en ook te simboliseer.

Dié besondere installasies sou aanvanklik bly tot die einde van die eerste somerseisoen, maar is nou verleng tot later.
Daar is slegs twee vertonings van Eerstemense Vrydag 23 en Saterdag 24 April om 19:30.
Die vertoning duur net 30 minute en laat teatergangers die opsie om nog ‘n ete by een van die plaaslike restaurante te geniet.
Kaartjies kos R80 en besprekings kan gedoen word by www.artstown.co.za of 082 851 1262.

Leave a Reply

error: Content is protected !!