Nog een Rata-optrede van Donker Jonker

Swartlander Donker Jonker sluit die eerste seisoen van die Royal Arts Town-amfiteater in die Riebeekvallei op gepaste wyse af met sy eenmanvertoning Eerstemense – stof tot nadenke oor die koms en impak van nuwe beskawings in dié “groen vallei”.

Eerstemense is die verhaal van ‘n fassinerende karakter wat in die Riebeekvallei land, homself plot met die “walle van die groen vallei” soos hy die berge een vir een opnoem, en dan ‘n klomp aktuele kwessies as’t ware kom oopbreek.
Tussen digkuns en prosa ontvou die verhaal van die Khoi en San wat die vallei bewoon het asook die fassinerende besoeker se ondersoek en kommentaar met groeiende intensiteit.

“Die maan kom op oor Ontongskop…

“Jou vryheid Jakob Ontong, jou vryheid is op pad…

“Ruik jy die stank op die wind van vergryp?…

“Ruik jy die rye kadawers van nog en nog begeer?”

Eerstemense is verlede jaar geskep vir Solo Studios. Dit staan onder die regie van Mark Graham-Wilson, soos Jonker ‘n inwoner van die Riebeekvallei en ook die teaterdirekteur van Rata.
Daar is nog een vertoning van Eerstemense môreaand 24 April om 19:30 voor die gordyn die laaste keer sak op eerste somerseisoen van die nuwe teater by die Royal Hotel.

Created with GIMP

Die vertoning duur net 30 minute en laat teatergangers die opsie om nog ‘n ete by een van die plaaslike restaurante te geniet.
Kaartjies kos R80 en besprekings kan gedoen word by www.artstown.co.za of 082 851 1262.

Leave a Reply

error: Content is protected !!