CommunityFEATUREDNews

Weskus se skoonste en netste polisiestasies gekroon

Die wenners van die splinternuwe kompetisie vir die skoonste en netste polisiestasie van die Weskus is Vrydag by ‘n spoggeleentheid by Meerhof buite Riebeek-Kasteel aangekondig.
Doringbaai het met die trofee van die algehele wenner vir 2025 weggestap.
Darling het die toekenning ontvang vir die stasie met die beste vordering in die Swartland munisipale area terwyl Malmesbury as dié munisipale area se skoonste en netste stasie aangewys is.

Sers. Glenvill van der Merwe van Moorreesburg het ook by die geleentheid ‘n spesiale trofee ontvang vir die beste koördineerder vir landelike veiligheid in die streek.
Die burgemeester van die Weskus Distriksmunisipaliteit (WDM), raadsheer Roelof (Boffie) Strydom, het die gaste, waaronder die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Thembisile Patekile, die distriksbevelvoerder van die Weskus, genl.maj. Sizakhele Dyantyi, die Wes-Kaapse LUR vir polisietoesig en gemeenskapsveiligheid, Anroux Marais, en die burgemeester van die Swartland Munisipaliteit, raadsheer Harold Cleophas, verwelkom by die geleentheid om “uitnemendheid in die polisie te vier.
“Ons is byeen om nie net erkenning te gee aan uitstaande SAPD-kantore nie, maar ook aan die professionele diens, dissipline en trots wat die basis van die polisiediens in ons distrik vorm.
Hy het almal in die polisie bedank vir hul “toegewyde diens wat ‘n groot verskil maak in die lewens van inwoners van die Weskus”.

Jakkie van Litsenborgh

Jakkie van Litsenborgh, veiligheidskoördineerder van die WDM, het verduidelik dat as deel van die Weskus se veiligheidsplan die fokus onder meer op landelike veiligheid val. “Die Weskus is die enigste distrik met ‘n 24-uur geïntegreerde operasionele sentrum. Al 25 polisiestasies in die distrik sowel as die vyf munisipaliteite is op ‘n radionetwerk gekoppel.”
Van Litsenborgh, ‘n oudoffisier, het die projek om die Weskus se skoonste en netste polisiestasie aan te wys, gelei. Daar was ‘n span van 10 beoordelaars.
Hy het by die toekenningsgeleentheid gesê die beoordeling van die 25 polisiestasies het oor twee rondes plaasgevind met 50 stasiebesoeke.
Hulle het tydens die tweede ronde reeds by verskeie stasies ‘n groot verbetering gesien en dié stasies se moeite en ekstra werk in die enkele maande is by die galageleentheid in ‘n aparte afdeling beloon.
“Hierdie inisiatief is geneem om die beeld van die SAPD te bevorder, maar ook om dienslewering aan ons gemeenskappe te verbeter.

“Die projek het ten doel om die moreel van polisielede te verhoog en om ‘n geleentheid te skep vir die plaaslike gemeenskappe en sakesektor om die polisie te ondersteun en om hul werksomgewing te verbeter”.
Hy het gesê die prysgeld vir die kompetisie (R10 000 vir die algehele wenner en R3 500 vir elk van wenners in elk van die vyf munisipaliteite) asook ‘n bydrae van R5 000 vir die toekenningsgeleentheid is deur die provinsiale departement van polisietoesig en gemeenskapsveiligheid geborg. “Die spoggeleentheid is verder moontlik gemaak deur ander borge en nie deur enige geld van die WDM nie.”
Van Litsenborgh het die kriteria vir die kompetisie uiteengesit.
Dit het die duidelikheid van aanwysings na die stasie, die tuin en/of parkeerarea van die stasie, die gemeenskapsdienssentrum, die visuele polisiëring se administratiewe kantore, die speurdiens- en ondersteuningsdienskantore, die slagofferondersteuningsfasiliteite asook die aanhoudingselle ingesluit.

Lt.genl. Thembisile Patekile

Lt.genl. Patekile het gesê dit is vir hom ‘n voorreg om na die geleentheid genooi te word. “Ek dink dit is die eerste keer wat ‘n plaaslike owerheid of ander owerheidsektor na ons kyk en ons ondersteun.
“Aksies soos hierdie beteken baie.”
Tydens haar toespraak Marais die belangrikheid van ‘n veilige, gesonde en opbouende werksomgewing vir die polisie beklemtoon.
“Die dapper lede van die SAPD staar op ‘n daaglikse basis trauma, gevaar en emosionele druk in die gesig. Hulle sien die dinge wat ons hoop om nooit te sien nie. Die aard van hulle werkplek is een van geweldige druk – nie net op fisieke veiligheid nie, maar ook op hul emosionele en geesteswelstand.”
Dit is daarom, het Marais bygevoeg, “nie net voordelig nie, maar noodsaaklik om ‘n gesonde werksomgewing te skep.”
Sy het gesê sy sal graag wil sien dat dié insiatief ook in al die ander streke van die Wes-Kaap beslag kry.

Die bekroonde stasies is:
Mees verbeterde stasie:
Bergrivier: Redelinghuys
Cederberg: Graafwater
Matzikama: Nuwerus
Saldanhabaai: St. Helenabaai
Swartland: Darling

Skoonste en netste stasie per munisipale area:
Bergrivier: Eendekuil
Cederberg: Graafwater
Matzikama: Doringbaai
Saldanhabaai: Langebaan
Swartland: Malmesbury

Algehele wenners:
1ste plek: Doringbaai
2de plek: Langebaan
3de plek: Eendekuil

Al die Wenners

Leave a Reply

error: Content is protected !!