Skouweek in die Swartland het aangebreek
2-5 September op Moorreesburg
Vroeg in September is dit skoutyd in die Swartland met die Wes-Kaap se grootste landbouskou, die Swartlandskou, wat weer van Woensdag tot Saterdag op die Moorreesburg Skougronde plaasvind.
Maande se voorbereiding en harde werk kulmineer elke jaar in die tentoonstelling van top-diere, -landboumasjinerie, -voertuie, -leefstylprodukte en -vaardighede asook landbou-inligtingsgesprekke en kos en vermaak vir elke smaak.
Die Swartlandskou het oudergewoonte op ‘n hoë noot afgeskop met die skoudans van Vrydagaand waar die skoukoningin vir 2026, Meri van Niekerk, en haar twee prinsesse, Liebe Neethling en Mieke Nel, ook aangewys is.

Besoekers kan vanjaar weer uitsien na ‘n propvol program en talle kampioenskappe.
In die beesafdeling neem daar jaarliks ongeveer 400 diere deel en daar is vanjaar weer agt rasse wat sake om hul onderskeie titels gaan uitspook en ook uiteindelik meeding om die Goue Beker-trofeë wat Saterdag oorhandig word. Die rasse is SA Angus Swart (streekskampioenskappe), SA Angus Rooi (streekskampioenskappe), SA Hereford (streekskampioenskappe), SA Simentalers (Wynland-streekskampioenskappe), SA Santa Gertrudis (streekskampioenskappe), SA Charolais (streekskampioenskappe), SA Sussex (streekskampioenskappe) en SA Romagnola.

In die arena sal die SA Saalperd-kampioenskappe asook die nasionale SA Vlaamperd-kampioenskappe beslis word. Die perdeprogram bereik Saterdag sy hoogtepunt met onder meer die kampioenskap vir die SA Vlaam wa-span van 8 wat altyd die belangstelling gaande het asook die SA Saalperd siertuig-, enkeltuig- en 5-gang kampioenskappe.
Skougangers kan uitsien na nog ‘n nuwe toevoeging – die Swartlandskou Boerboelkampioenskappe in samewerking met die Wes-Kaap Boerboelklub.
Die pluimvee-afdeling is ook immergewild met die spogvoëls wat om die kampioenskapkrone meeding.
Die Agri-Expo Wes-Kaap Jeugskou word weer gehou. Die groot aantal jong deelnemers sal in 10 verskillende dissiplines meeding en hul kennis, vaardighede en passie ten toon stel. Onder die klasse waarin hulle hul slag sal wys, is vleisbeeste, pluimvee, sierduiwe, wedvlugduiwe, kulinêre kuns, suiwelbereiding, fotografie (kamera), fotografie (selfoon), konyne en die jong afslaerskompetisie.
Nog een van die jaarlikse hoogtepunte op die skouprogram is die Damesdag wat Woensdag plaasvind met gaskuntenaars Francois Boyes, Elandré en Donnalee Roberts. Kaartjies vir dié spoggeleentheid is weer opgeraap en reeds geruime tyd gelede uitverkoop.

Vrydagoggend is daar oudergewoonte die jaarlikse landbouprodusenteseminaar waar gaste op uitnodiging kan luister na landbousake van die dag wat toegelig word deur die sprekers – Tjaart Kruger (HUB van Tiger Brands), Mark Watt van Heidrick & Struggles (‘n wêreldwye bestuurskonsultant- en leierskapwerwingsfirma) asook die bekende ekonoom prof. Johan Willemse.
By Donderdagaand se “Novelty”-veiling word die wenners van die slaglamkompetisie bekend gemaak.
Maak seker jy loop nie die leefstyluitstallings mis nie en natuurlik is daar ook weer ‘n groot verskeidenheid restaurante en kosstalletjies en volop vermaak vir oud en jonk met top-kunstenaars soos Juan Boucher, Ruan Theron, Johan van der Merwe, Ivan van der Merwe, Brandon Miles, Hendré Baard, Karlien van Jaarsveld en Snotkop asook DJ Wico.
Kaartjies vir die skou is reeds op die net beskikbaar by https://tickets.tixsa.co.za/event/swartlandskou-2026
