EntertainmentLatestNews

‘Uitstaande produksies’ op ‘wonderlike Voorkamerfest’, sê feesgangers

Die Darling Voorkamerfest is weer die afgelope drie dae gehou en feesgangers kon nie uitgepraat raak oor die “uitstaande produksies” en “wonderlike konsep” nie.
Petra de Villiers van Durbanville het aan dié courant gesê sy is so verheug dat sy juis drie produksies gesien het, “waarvoor ek nooit sou betaal nie, omdat ek so op dieselfde goed ingestel is.
“Ek is so bly vir hierdie fees wat my nou juis uit my ‘comfort zone’ gedwing het en my kop net weer bietjie oopgemaak het. En moet my nie verkeerd verstaan nie. Dit was elkeen oor ‘n wye spektrum uitstekende produksies in hul eie reg.”
Nog ‘n feesganger, Deon Smith, vertel van die ongelooflike ervaring om ‘n internasionaal bekroonde akteur soos Dame Janet Zuzman (wat vroeër vanjaar 80 jaar oud geword het) Shakespeare na die “mees doodgewone en mees beskeie venue wat jy kan kry in Darling-Noord te sien bring, was eintlik een van dié kunshoogtepunte van my lewe”.


dié courant het ook met Dianne le Roux van Darling Toerisme gesels. Sy sê die goedvoel-atmosfeer van die Voorkamerfest maak van dit ‘n gewilde konsep.
Michael Rangasamy, munisipale raadslid van die Swartland Munisipaliteit, sê die inklusiwiteit van dié fees is uniek en ‘n toonbeeld van hoe feeste kan werk. “Dit wys daar is hoop vir ons land en ons toekoms. Daarom kan ons nie toelaat dat feeste soos hierdie bedreig word nie.”
Hy vertel dat daar hard gewerk moes word om te verseker dat regulasies wat nie vir dié konsep voorsiening maak nie, nie die fees in die wiele ry nie.
“Toerisme is vir my baie belangrik. Elke persoon wat in ‘n gastehuis slaap, skep werk vir hierdie gemeenskap en daarom moet ons toerisme uitbou,” het hy bygevoeg.

Leave a Reply

error: Content is protected !!