Darling XV maak geskiedenis
Die eerste vyftiental van Darling Rugbyklub het geskiedenis gemaak toe hulle Saterdag vir die eerste keer tot die Boland se halfeindronde deurgedring het.
Darling het ‘n baie goeie seisoen beleef en bo-aan die punteleer in die Boland se Groot Uitdaag Swartlandliga geëndig.
Dié Swartlandkampioen het in die ligawedstryde onoorwonne geëindig .
In hul Top 12-kragmeting in die kwarteindronde Saterdag op Vanrhynsdorp het Darling ‘n enorme taak gehad om met meer as 24 punte te wen as hulle wou deurdring.
Die Swartlanders het die eerste punte op die telbord gesit met ‘n drie vroeg in die wedstryd.
Vanrhynsdorp se Eagles het met mening teruggeslaan met twee agtereenvolgende drieë en met nóg 3 punte was die telling 13-5 teen Darling.
Hierna is ‘n strafdrie aan Darling toegeken om die gaping na 13-12 te laat krimp.
Met nog ‘n verdoelde drie het Darling weer die voortou geneem met 19-13 en dit opgevolg met nog ‘n kuier agter die Eagles se doellyn om die gaping na 24-13 te rek.
Toe het die tuisspan weer hul vlerke gesprei en met twee verdoelde drieë die wipplankstryd voortgesit en die voortou geneem met 27-24.
Darling het toe die krane oopgedraai en ook geantwoord met twee drieë waarvan een verdoel is om die bordjies weer te verhang en voor te loop met 36-27.
Hierna het die spreekwoordelike damwal gebreek en Darling het uiteindelik met 56-27 deurgedring na die halfeindronde Saterdag teen Caledon.
Die twee halfeindstryde (die ander een is tussen Saldanha en Roses United) vind Saterdag op Wellington plaas.