De Villiers wen in Marokko
IFRANE, MAROKKO – Die Toyota Gazoo Racing SA-jaer Giniel de Villiers en sy Spaanse navigator, Alex Haro, het die vyfde en laaste sneltrajek van die 2019-Marokko-veldtydren gewen en sodoende hul algehele oorwinning in die byeenkoms verseël. De Villiers-hulle het in die 4de sneltrajek die voortou geneem in dié taai tydren en ’n aanslag van die MINI-jaers Carlos Sainz en Lucas Cruz in die laaste sneltrajek afgeweer om die Suid-Afrikaans-geboude Toyota Hilux in die eerste plek oor die wenstreep te stuur.
Die tydren het uiteindelik in ’n groot teleurstelling vir Sainz/Cruz geëindig toe ’n waterpyp net 20 km voor die einde gebreek en hul MINI gestrand gelaat het. Hulle is deur ’n medejaer uitgesleep, maar was uiteindelik 17 minute 42 sekondes agter De Villiers/Haro. Die Franse jaer Mathieu Serradori en sy Belgiese navigator, Lurquin Fabian, het die laaste podiumposisie in hul Suid-Afrikaan- geboude CR6-buisraammotor ingeneem.
“Dit is heerlik om weer hier in Marokko te wen,” het De Villiers gesê nadat hy die Toyota Hilux aan die einde van die laaste sneltrajek parkeer het. “Ek het hierdie tydren al drie keer voorheen gewen, maar het sedertdien ’n lang, droogte beleef en ek is behoorlik in my noppies om weer op die boonste trappie van die wennerspodium te staan.”
De Villiers het die hele span vir hul voorbereiding van die motor, wat reg deur al vyf sneltrajekte soos klokslag geloop het, bedank. Hy het ook ’n spesiale woord van waardering vir sy navigator, Haro, gehad:
“Ek is namens Alex ook baie bly. Hy het hom puik van sy taak gekwyt en ek is seker hierdie oorwinning sal die twee van ons nog meer vertroue gee namate ons ons op die komende Dakar-veldtydren voorberei.”
Die spanhoof, Glyn Hall, was tevrede met die oorwinning ten spyte van die teleurstelling toe Nasser Al Attiyah en Mathieu Baumel, wat los voor was, in Sneltrajek 4 uitgeval het. “Ja, dit was ’n groot terugslag vir ons veldtog,” het Hall gesê. “Dit was egter fantasties dat Giniel en Alex kon deurbreek en die ren wen.”
Verder af op die tydrooster het hul spanmaats Bernhard ten Brinke en navigator Tom Colsoul ’n tawwe tydjie gehad. Hulle het eers hope tyd verloor nadat hulle ’n ongemerkte sloot in Sneltrajek 3 teen hoë spoed getref het, maar in die laaste sneltrajek herstel en die tweede vinnigste tyd van die dag – net 26 sekondes agter De Villiers/Haro – opgestel en die tydren in die algehele 20ste plek afgesluit.
Die laaste sneltrajek was ook ’n skoon lopie vir Toyota Gazoo Racing se nuwelingjaers Fernando Alonso en Marc Coma, wat die agtste vinnigste tyd opgestel en die 21ste posisie algeheel ingeneem het. Alonso-hulle sal hul opleiding saam met die span voortsit met die oog op ’n moontlike inskrywing in die 2020-Dakartydren.
Nou wag die laaste ronde van die Suid-Afrikaanse veldtydrenkampioenskap (SACCS), wat Vrydag en Saterdag 1 en 2 November in die Vrystaatse dorp Parys beslis word. op die Toyota Gazoo Racing-span. – (Mediaverklaring)