Latest

‘Goue’ draad van 50 jaar van Van Vuuren uitgestal

Een van die mees rare onlangse uitstallings op Riebeek-Kasteel is die naweek geopen. In sy eie woorde: “Daar is my siel voor julle,” het André van Vuuren die uitstalling Threads oor sy 5 dekades as ekspressionis in die RK Contemporary aan gaste verduidelik.
Die uitstalling is deur Pieter Swart, direkteur van spesiale projekte aan die Universiteit van Stellenbosch en direksielid van die GFI-kunsgalery in Port Elizabeth en die Stellenbosch Kunsmuseum, geopen.

Oor Van Vuuren se werk het Swart die kunstenaar aangehaal – hy verf: “Wat hy moet, nie wat hy wil nie.
“Mens kan nie voor André se werk staan, en nie daardeur geraak word nie.
“Daar is die emosionele betrokkenheid van die kunstenaar in wat hy dink. Jy word op ‘n manier deur sy werk ingetrek om daarby betrokke te raak.”
Dit is Van Vuuren se 53ste groot uitstalling in die jaar wat hy 75 jaar oud word en kan as half autobiografies beskryf word.
Hy skilder die afgelope 50 jaar, waarvan die laaste 10 jaar op Riebeek-Kasteel.

Oor Van Vuuren se werkswyse het Swart vertel hy kan met ‘n spesifieke kleur begin, wat later – soos die werk groei – mag verdwyn en dan op ‘n ander plek in die werk weer verskyn of selfs in totaal ander latere werke.
“Hy skilder spontaan en ek dink as mens na sy werke kyk, kan jy dit ervaar.
“Wat hy na die ateljee neem, is die gevoelens en emosionele reaksie op wat hy gesien en beleef het.”
Swart het bygevoeg onder die sterkste artistieke invloede op Van Vuuren se werk tel die natuur, die mensdom in beide die skoonheid en die minder mooi en ook die enorme skeppingskat van die mens waarin hy die werk van Picasso uitsonder.
Hy het Van Vuuren gelukgewens met ‘n sterk uitstalling propvol stof tot nadenke.
Swart het die kunstenaar ook bedank dat hy sy “wêreld met ons deel”.
Hy het Van Vuuren se vrou, Val, bedank dat sy hom toelaat om te doen wat hy die beste doen en Astrid McLeod van RK Contemporary bedank vir haar reuse-bydrae tot die bevordering en ondersteuning van kunstenaars in die vallei.

Die kunstenaar André van Vuuren en Pieter Swart wat die uitstalling geopen het.

Van Vuuren het die naam van die uitstalling – Threads – toegelig.
“Agter in die galery is my geskiedenis. Daar is prente daar van my eerste uitstalling in 1970 en in die voorste vertrek is die onlangse werke.”
“So jul sal ‘n lyn vind wat deurloop, dit is waar die Threads-idee vandaan kom.”
“Die lyn van hoe my gedagtes gewerk het van toe tot nou.
“Jul sal ook beelde kry van 1987 wat vandag steeds verskyn.”

Oor die verskeidenheid in sy werk, sê Van Vuuren:“Die vraag mag ontstaan, weet hy regtig wat hy wil doen?
“Ek verf landskappe. Dan inspireer landskappe my nie meer nie, of ek het nie weer iets gesien wat my laat skilder nie.
“Dan begin ek dink. Elke dag word ons gebombardeer deur wat mense aan ander mense doen. En watter foute mense maak en watter ongelooflike dom dinge mense met mag doen.”
Van Vuuren het afgesluit met: “Ek hoop jul geniet die uitstalling.
“Daar is my siel voor julle.”
*Die uitstalling by RK Contemporary in Hoofstraat, Riebeek-Kasteel duur tot 29 Maart.

•Andre Francois van Vuuren is bekend vir sy skilderye van abstrakte figure, landskappe en abstrakte beelde wat die knellende probleme van ons tyd uitbeeld.
Hy is in 1945 in Benoni naby Johannesburg gebore.
Ná skool studeer hy grafiese ontwerp aan die Johannesburg School of Art (1965-1967). Daarna het hy by die Visuele Kunste-navorsingsentrum aangesluit.
Sy eerste solo-uitstalling is in 1970 in Johannesburg gehou. Sedertdien het hy verskeie solo-uitstallings gehad en groepuitstallings by toonaangewende galerye soos die Goodman Galery en lidchi Galery in Johannesburg en die Neil Sack Galery in Durban.
Hy gebruik verdraaiing van menslike figure en gesigte, sowel as die landskap om ‘n boodskap van dwaasheid en konflik binne die menslike gees oor te dra, sowel as die misbruik van die landskap deur die mens.
In sy nuutste werk is die vernietiging van die omgewing deur die mens in die naam van vooruitgang en onkunde oor die gevolge daarvan, vir hom die grootste kommer.
Die werk Earthscape simboliseer die plastiese en ander besoedeling van ons oseane en die gevolglike uitwerking op die seelewe.

Leave a Reply

error: Content is protected !!