Arendse praat oor 109km- fietstoer kort ná nuwe nier
Dit was baie epic. Dit was ‘n bietjie tough volgens die weersomstandighede, maar nie so erg soos wat ek gedink het nie.
Só gesels Bradley Arendse van Malmesbury wat die afgelope naweek die Kaapstad Fietstoer oor 109km voltooi het ‘n skamele vier maande ná sy nieroorplanting.

Dié deelname val ook saam Wêreld Nierdag Donderdag 12 Maart wat daarop gemik is om ‘n bewustheid van die belangrikheid van ons niere vir ons gesondheid te verhoog en die impak van niersiekte en die gepaardgaande probleme wêreldwyd te verminder.
“Die oorplanting was op 6 November. So ek kon eers in Januarie begin oefen – basies twee maande.”
“Die verste wat ek in die voorbereiding kon oefen, was 36km.
Sondag se Kaapstad Fietstoer was die verste wat hy nog aaneen gery het, “maar definitief nie die laaste keer nie.
“Ek het al die pad getrap. Hier en daar gestop by die waterpunte, maar verder het ek dit geniet.

“Die beste van alles is dat ek nie moeg was nie. Dit sê my fiksheid is op ‘n baie goeie vlak.”
Arendse sê sy spiere was ‘n bietjie lam en het lank gevat om warm te raak.
“Die moeilikste was natuurlik Chapmanspiek en Suikerbossie en ook die eerste 5km.
“Van die wegspring af tot by Hospitaaldraai het ek gedink ek gaan dit nie maak nie. Toe wil my bene nie werk nie. Hulle was styf omdat ek van 6-uur die oggend af die hele tyd gestaan het tot kwart voor nege. So ek het nie opgewarm nie.
“Toe ek bo-op die heuwel by Hospitaaldraai kom, was ek behoorlik naar. Ek het amper gedink ek moet maar na die ambulans toe gaan, maar gelukkig daarna het dit beter gegaan.

“Ek het te hard gewerk vir dit. Ek kan nie so gou tou opgooi nie.”
Arendse sê hy het sy eetgoed in die motor vergeet. “Gelukkig was daar waterpunte en ‘n paar marie-beskuitjies langs die pad en een vriend het vir my by die 40km ‘n sjokoladestafie gegee, want toe kon ek voel my suiker is bietjie laag.”
Hy het gehoop vir ‘n beter tyd, maar “met die wind en die reën dink ek die 6 ure en 28 minute was vir my goed genoeg.”
Arendse was een van 12 lede van ‘n oorplantingspan wat in verskillende groepe weggespring het.
Hy sê hy was gister vir sy weeklikse doktersondersoek en “alles lyk goed. Die dokters is tevrede. Die dokters is baie beïndruk met wat ek gedoen het.”
Die ryery het nie ‘n nagatiewe impak gehad nie, sê hy.
Hy is baie dankbaar vir die fiets wat Cynthia Morton van Riebeek-Wes vir hom geskenk het.
“Dit was haar man, Rob, se fiets. Hy is ongelukkig verlede jaar oorlede en ek het hierdie eerste wedren aan hom opgedra. Sy naam is ook op die fiets aangebring. So hy het saam met my gery. Hy het self al 11 Argus-wedrenne voltooi.”

Arendse vertel ook dat hy sy deelname opgedra het aan ander oorplatingspasiënte wat nie so bevoorreg soos hy is nie.
En wat is nou volgende?
“Nou begin oefen ek vir die nasionale oorplantingspele in Junie in Pretoria. Ek gaan heel moontlik ook die 400m en 800m hardloop. Ek gaan hard werk daarvoor.”
Arendse vertel hy gaan by die spele aan die 30km- en ‘n 10km-fietsrynommers deelneem.
“As ek reg onthou is die kwalifiserende tyd in die 30km 58 minute om vir die Wêreldoorplantingspele volgende jaar in Texas te kwalifiseer.
“As ek kwalifiseer en ek kry plek, sal ek dan graag Amerika toe wil gaan.”
Hy meen die 58 minute is “definitief doenbaar as dit op ‘n gelyk baan is.”
Intussen, vertel Arendse, het die dokters hom geskik verklaar om weer te kan werk en hy is tans besig om die opsies met sy werkgewer te bespreek.