3 Swartlandse wyne vat-vat aan die 100
Callie Louw van Porseleinberg is in die nuutste Tim Atkin-wynverslag vir Suid Afrika as Wynmaker van die Jaar aangewys.
Naas een wyn wat ‘n 100% in die 2024-verslag kon losslaan, het drie Swartlandse wyne die toppryse ingeoes en deel die reserweposisie.
Al drie – die 2022 Porseleinberg Syrah, die 2022 Sadie Family Columella en 2023 Sadie Family Mev Kirsten – het elk 99 punte verwerf.
Dit beteken die prys vir beste rooiwyn in die land word in die 12de Tim Atkin-verslag gedeel deur die 2022 Porseleinberg Syrah en die 2022 Columella, terwyl die Mev Kirsten die naasbeste witwyn is.
Die eerste plek – daardie 100% – is toegeken aan die 2023 Alheit Vineyards Nautical Dawn (‘n Chenin Blanc).
Eben Sadie se Mev Kirsten is ook ‘n Chenin Blanc en sy Columella is ‘n “Shiraz-gedomineerde rooi versnit van Mediterreense variëteite”.
Beide Porseleinberg en Sadie Family Wines was reeds voorheen top-puntemakers in dié jaarlikse verslag.
Atkin het Suid-Afrika se wynmakers, kelder- en wingerdwerkers en produsente geloof vir “hul volharding, selfstandigheid en buigsaamheid”.
“Suid-Afrika produseer tans onbetwisbaar die beste wyne in sy geskiedenis.”
Atkin het 2 259 wyne geproe vir die verslag.
Nog twee Swartlandse wyne – die 2024 AA Badenhorst Secateurs Chenin Blanc en 2022 Mullineux Kloof Street Rouge – het onderskeidelik weggestap met die toekennings vir Beste Waarde Witwyn van die Jaar en Beste Waarde Rooiwyn van die Jaar.
Atkin het die NV Vinevenom Shining Rosé No. 2, Swartland aangewys as die Rosé Ontdekking van die Jaar.