Lillies los eerste om die draai
Al is die stryd op papier altyd eers gewonne as die laaste salvo’s gevuur is, lyk dit of Abbotsdale nou beslis vanjaar se kampioene sal wees in die Swartland-afdeling van Boland Rugby se Grootuitdaagliga.
Lillies het met hul sege van 41-26 oor Villagers Wittewater hul posisie bo-aan die punteleer verstewig en daar is bitter min wat nou tussen hulle en die titel staan.
Hulle sal in hul twee oorblywende wedstryde saam minder as twee ligapunte moet kry en/of baie groot loesings op die lyf loop om op punteverskil terug te sak as Darling hul laaste wedstryd met ‘n 5-puntsege en ‘n allemintige telling sou wen.
Maar die kanse is skraal.
Dit is eerder die tweede plek waar sake nog uitgespook moet word. Met Darling, steeds tweede op 72 ligapunte ná hul sege (27-24) oor Never Despair, blaas Porterville (steeds derde ná hul naerskraapse sege van 24-23 oor Wesbank) nog in hul nek op 71 ligapunte.
Beide dié spanne het nog een ligawedstryd oor.
Wesbank wat ook nog een wedstryd oor het, is tans vierde op 66 punte. Good Hopes (nog twee wedstryde oor) is op 63 punte nadat hulle by verstek 5 ligapunte en ‘n 28-0-oorwinning gekry het omdat Young Eagles nie die wedstryd kon speel nie.
Good Hopes het nog twee wedstryde oor en speel komende naweek hul Derbywedstryd weg teen Riebeek-United. Laasgenoemde het Saterdag met 33-24 teen Saron vasgeval.
Abbotsdale speel Saterdag tuis teen Moorreesburg en Darling speel ook tuis teen Porterville.
Wesbank ontvang die spanne van Villagers Wittewater en volgens die ligabepaling speel Never Despair weg teen Young Eagles. Saron het ‘n loslootjie.