Events

Maart skop af met aksiebelaaide naweek

Maartmaand in die Swartland word ingelui met ‘n naweek propvol aksie en pret.
Naas die laaste vriendskaplike wedstryde voor Boland Rugby se klubligas aanstaande naweek afskop, is daar onder meer druiwetrappret, motorsport en saamkuiergeleenthede.

Die Riebeek Valley Wine Co se druiwetrapdag word Saterdag by die kelder gehou en daar gaan oudergewoonte gekuier word dat die sop spat.

Ook Darling Cellars hou Saterdag hul jaarlikse gewilde “Crush Day”.

Van die Swartland se rugbyklubs wat vanjaar weer in die Boland Grootuitdaagliga speel, doen hul laaste voorseisoense skaafwerk in hul vriendskaplike kragmetings Saterdag.
Wesbank speel tuis teen die spanne van Young Hamiltons terwyl Darling gasheer speel vir die spanne van Young Hearts.
Good Hopes speel ook tuis op Riebeek-Wes teen die besoekers van Temperance en Abbotsdale reis na Grabouw.

Op Porterville gaan die stof en klippe weer behoorlik spat wanneer tydrenjaers mekaar Saterdag die stryd aansê in die Porterville Rally. Dit is die eerste ronde van vanjaar se Wes-Kaap tydrenkampioenskap en die dag begin en eindig by die Porterville Skougronde.

‘n Spesiale kuieroggend ten bate van Huis van Heerde word Saterdag op Moorreesburg gehou saam met die Lions en die VLV en op Riebeek-Kasteel is dit die oggend weer tyd vir die maandelikse mark op die plein (09:00-13:00).

Leave a Reply

error: Content is protected !!