Klubrugbyseisoen skop Saterdag af
Ná ‘n klipharde 2024-seisoen met hier en daar ook ‘n bietjie aksie van die veld af om dinge interessant te hou, skop die klubligas van Boland Rugby hierdie naweek af.
Op enkele verskuiwings na, het die meeste spanne in dieselfde ligas gebly om hul visiere opnuut op die top-plekke op die onderskeie puntelere in te stel.

Die top-liga in die Boland is die Grootuitdaag. Spanne ding daar mee in ses streke: Breelangeberg, Noordweste, Overberg, Swartland, Weskus en Witsentraal.
In die Swartland is daar 12 spanne wat om die gesogte streektitel sal meeding en dan uiteindelik ook om ‘n plek in die provinsie se Top 12-kompetisie. Hier ding die twee spanne wat aan die einde van die tweede ronde van die liga die eerste twee plekke in elke streek beklee dan om die provinsiale titel mee.

In die eerste been van vanjaar se eerste ronde speel die verdedigende Swartland-kampioen, Abbotsdale, Saterdag tuis teen Voorberg.
Die Swartland se reserwekampioen van verlede jaar was Darling. Hulle speel Saterdag ook tuis teen die besoekers van Villagers Wittewater.
In die ander Swartlandse kragmetings in die Grootuitdaag pak Porterville (tuis) die spanne van Riebeek United; Wesbank ontvang die spanne van Saron; Good Hopes speel op Riebeek-Wes tuis teen Mamre en Moorreesburg speel gasheer vir die besoekers van Never Despair.

Piketberg en Goedverwacht ding in die Weskusstreek mee en hulle speel beide Saterdag weg teen onderskeidelik Saldanha en Vredenburg.
In die Streekuitdaagliga skop die seisoen vir die Swartweskus-streek af met ‘n derby-wedstryd tussen Malmesbury (wat vanjaar opgeskuif het vanuit die Gemeenskapsliga) en Flying Eagles. Laasgenoemde is die gasheer en die wedstryde word op die C-veld van die Alfastraat-sportterrein beslis.

Die ander Swartweskus-kragmetings vir Saterdag in dié liga is: Coronations (tuis) teen Universals; Koringberg (tuis) teen Young Tigers; Saldanha Tigers (tuis) teen Mountain Eagles; Zebras (tuis) teen Young Eagles. Broodkraal het ‘n loslootjie.
In die volgende liga, die Gemeenskapskild, is daar vyf streke – Breërivier, Langeberg, Overberg, Sentraal en Witzenberg.
In die Sentraalstreek speel Porseleinberg Saterdag tuis teen Spartan en White Spirits speel weg teen Try Again.