EntertainmentEventsLatest

Gewilde Buite-ekspo skop Vrydag af

Oor twee dae skop een van die grootste geleenthede wat jaarliks in die Swartland plaasvind, af op die plaas Môreson naby Tierfontein langs die N7.

Die kykNET Buite-ekspo (Wes-Kaap) wat jaarliks duisende besoekers na die streek bring, is in 2014 na Môreson verskuif. Dit het sedertdien jaarliks gegroei en behoorlik uit sy nate begin bars. Hierdie naweek bied die ekspo weer ‘n program propvol aktiwiteite en nóg meer uitstallers as voorheen.
Met die klem op ‘n groot verskeidenheid uitstallings van die nuutste en gewildste buitelug-toerusting, is daar ook volop vermaak vir die hele gesin.
Vanjaar brei die ekspo boonop verder uit met ‘n Agripark waar landbou-uitstallers hul produkte aan die besoekers bekend kan stel.

Sedert die eerste keer (2014) wat die ekspo op Môreson aangebied is, het dit geweldig gegroei en die uitstallings is vanjaar nóg meer.

Daar is oudergewoonte gratis 4×4-ritte waar verskillende voertuie se vermoëns eerstehands ervaar kan word asook ‘n leefstyl-afdeling met uiteenlopende uitstallings.
Vir die kinders is daar ‘n groot pretpark-area en die groot aantal kos- en drinkgoedverskaffers is elke jaar gewild om die dors te les en die honger mae te stil. Die Swartland Wykelder het ‘n spesiale wyntuin met heerlike kos deur sjef Bertus.

Besoekers kry weer die redelik eksklusiewe geleentheid om die onmiddellike omgewing vanuit die lug te aanskou met helikopterritte wat beskikbaar is.
In die groot arena is daar, naas die lang lys van gewilde Hankook-kunstenaars, ook ander aktiwiteite waaronder ‘n Braaiburger Toringbou-kompetisie met Jimmy’s Sauces en kykNET-akteurs.

Sondagoggend (10:00) kom kuier Liewe Heksie (Margit Meyer-Rödenbeck en Deon van Zyl) vir die jongspan op die verhoog.
Die lys van kunstenaars wat oor die naweek daardie verhoog aan die brand gaan sing en die voete gaan laat jeuk, is:
Vrydag – Die Rooiwynprofeet;
Saterdag – Nadia Louw en Manie, Rooies, Johan Liebenberg, Blackie Swart, Dewald Dippenaar, Posduif, David Fourie, Viljoen Retief, Desmond Wells, Die Broers en DJ Boerman.
Sondag – Die Rooiwynprofeet, Nic Stevens, Rooies, Nadia Louw en Manie.

Die ekspo begin Vrydag om 12:00 (tot 21:00). Saterdag se ure is van 09:00 tot 21:00 en Sondag van 09:00 tot 15:00.
Kaartjies vir die onderskeie dae of naweekpakette is reeds by https://opentickets.co.za/ beskikbaar. Dit kan ook by die hek gekoop word, maar as jy dit vooraf koop, kan jy moontlik ‘n lang ry by die hek vermy.

Leave a Reply

error: Content is protected !!