EntertainmentLatest

Fantastiese verskeidenheid op 1 plek – Voetspore-man

Die bekende TV-man Johan Badenhorst van Voetspore-faam het die afgelope naweek die kykNET Buite-ekspo besoek en dié courant het met hom gesels.
“Die ekspo groei net. Dit is asof daar net elke keer meer is. Ek kan nie glo hoeveel verskillende sleepwaens daar tans op die mark is nie. Een dag is te min om hier ‘n draai te maak. Jy moet ‘n seisoenkaartjie koop…”

Badenhorst sê hy was al by ‘n paar van die ekspo’s in die noorde en hier op Môreson en waarvan hy baie hou is die feit dat die besoekers “eende van dieselfde dam is.
“Al die mense wat hier is, is die mense wat hou van wat ek hou.
“Omtrent al die ouens hier kyk Voetspore.
“Hulle is ouens wat hou van die buitelewe. Hulle hou daarvan om te gaan kamp. Hulle hou daarvan om onder die sterre te slaap, vierwielkos te kan maak.
“Dit is fantasties om te sien watse produkte daar als beskikbaar is en die massiewe verskeidenheid.
“Dit wat die organiseerders doen met die kykNET Buite-ekspo is om vir mense die geleentheid te gee om op een plek te kan kyk na die hele verskeidenheid.
“Dit sal my vyf jaar vat om by al hierdie ouens individueel aan te gaan by al hul plekke.
“In daardie opsig dink ek dit is uitstekend en dan is daar ook die lekker vermaak vir die gesin,” voeg Badenhorst by.

Marius Opperman, organiseerder van die ekspo, het gesê Badenhorst het hulle deur die jare ondersteun sover hy kon wanneer hy nie elders besig was met sy TV-program nie.
“Dit is ‘n groot voorreg om hom met sy Voetspore-handelsmerk betrokke te hê, in welke mate ookal.
“Ons hoop om vanjaar te kyk of hy nie, waar moontlik, meer betrokke kan raak nie. Sy handelsmerk beteken ongelooflik baie en ook die manier hoe hy met mense omgaan en die respek wat hy afdwing by die publiek. Hy lok geweldig belangstelling by ons en soos hy genoem het kyk baie van ons besoekers sy program en is daar uiteraard dan ‘n besondere sinergie.”

dié courant het Badenhorst ook gepols oor waarna Voetspore-kykers kan uitsien in die toekoms.
Voetspore is tans in sy 18de reeks. Ons het die afgelope 25 jaar sedert ons begin het met die Voetspore van die Grotes in die jaar 2000 al die wêreld platgery. Afrika, Indië en die laaste drie jaar in Suid-Amerika gespandeer.
“Die Suid-Amerikaanse reekse is tans op TV. Suid-Amerika 3 is op SABC 2 en Suid-Amerika 2 en daarna 3 kom nou op kykNET uit later vanjaar en ook volgende jaar.
“Ek vat nou so ‘n klein bietjie van ‘n breek. Staan ‘n bietjie terug en kyk waarnatoe dinge gaan. Wat gebeur. Die landskap van televisie het ‘n bietjie verander. Deesdae is daar al meer stromingsdienste as wat daar kanale is. So dalk gaan ‘n mens meer kyk in die rigting van ‘n soort van ‘n Netflix of ‘n Showmax of iets van dié aard.
“Dit is tyd om net so ‘n bietjie asem te skep.

Voetspore het baie gou ontwikkel tot ‘n handelsmerk, amper sonder dat ons dit bedoel het. Ons eerste reeks se naam was In die Voetspore van die Grotes. Ons het olifantmigrasieroetes gevolg.
Die mense het begin praat van Voetspore en toe het ons die naam geregistreer en nou het ons ‘n klomp kategorieë waarin ons dit bemark. Ons het twee Voetspore-winkels – in Somerset-Wes en Pretoria, ‘n internetwinkel, 4×4 verhurings en ons neem mense op safaris.”

En die toekoms?
“Ons gaan kyk hoe lyk dit volgende jaar. Daar is ‘n paar dinge op die horison. Ek was nog altyd baie lus om Rusland toe te gaan. Ek weet nie wat gaan gebeur met Rusland nie. Die oorlog lyk my staan einde se kant toe. Terwyl dit gebeur, is dit miskien ‘n plek waarnatoe ‘n mens kan gaan, maar daar is nog niks vas besluit op die oomblik nie.”

Dan gesels ons oor die taal en die feit dat Voetspore ‘n Afrikaanse program is.
“Ons het ‘n wye gehoor met onderskrifte op ons programme, maar een van die goed waarop ons die meeste trots is op ons produk is omdat dit ‘n produk is in Afrikaans. ‘n Produk in suiwer Afrikaans. Deesdae raak dit maklik om sommer net te laat gaan.
“Sonder geaffronteerde mevrou dominee-Afrikaans kan ons tog onsself op ‘n baie mooi manier uitdruk in ‘n taal wat wonderlik is. Dit is vir my baie lekker om dit in Afirkaans te kan doen.”
Afrikaans vier vanjaar 100 jaar as amptelike taal.

Leave a Reply

error: Content is protected !!