Wittewater verras; 2de ronde wag
Die klubligas van Boland Rugby het Saterdag op dreef gekom met die onderskeie ligas se eerste ronde wat beslis is.
In die Grootuitdaag, die top-liga, was die meeste wedstryde se uitslae redelik volgens verwagting, maar op Darling het die besoekende Villagers Wittewater die tuisspan met ‘n naelskraapse oorwinning verras.

Darling wat verlede jaar as reserwekampioen in die Swartlandstreek in die Top 12 meegeding het, het onverwags met 26-27 teen die besoekers uit Bergrivier vasgeval. Daar is wel talle van verlede seisoen se spelers wat nie meer van Darling speel nie en die klub is genoodsaak om weer sy spanne te bou. Dit is egter nog baie vroeg in die seisoen en Darling het verlede jaar ook stadig begin en toe tweede geëindig.
Van die twaalf spanne in die Swartland kon vier Saterdag die volle 5 beskikbare ligapunte opstapel.

Abbotsdale het tuis ‘n goeie sege van 52-10 oor die nuweling in die liga, Voorberg, behaal.
Porterville het ook hul kanse goed benut en die besoekers van Riebeek United met 56-23 afgestof.
Wesbank het op hul beurt ook ‘n goeie sege behaal toe hulle die besoekende span van Saron met 62-31 getroef het.
Die enigste ander span wat 5 ligapunte in die openingsronde kon verdien, is Mamre wat ook effens verras het met ‘n wegsege van 28-25 op Riebeek-Wes teen Good Hopes.

In die sesde kragmeting van die ronde het Never Despair na Moorreesburg gereis en in die eerste helfte genoeg punte opgestapel om die tuisspan se terugvegpoging ná rustyd af te weer. Die eindtelling was 27-18 in Spairs se guns.
*In die komende naweek se wedstryde ontvang Villagers Wittewater die spanne van Abbotsdale; Wesbank reis na Mamre; Riebeek United speel gasheer vir Darling; Saron speel tuis teen Porterville; Never Despair ontvang vir Good Hopes en Moorreesburg reis na Voorberg.