EntertainmentLatest

Groter, propvol Buite-ekspo no. 31 wag

Maartmaand in die Swartland is nou al geruime tyd kykNET Buite-Ekspo-tyd.
2026 is nie anders nie en van 13 tot 15 Maart vind dié gewilde reuse-buitelug-kamp-en-kuier-skou weer op Môreson by Tierfontein langs die N7 plaas.

Dit sal dan die 15de Wes-Kaap-ekspo en die 31ste een nasionaal wees.
Hierdie keer raak dié geleentheid nóg groter. Organiseerder Maruis Opperman van Trio Events vertel weens die ongekende belangstelling van uitstallers het hulle nog 30 addisionele uitstalareas geskep en dié is ook reeds ten volle uitverkoop.
Of jy nou ‘n deurwinterde 4×4-entoesias, ‘n kamp-liefhebber of net iemand is wat die buitelewe geniet – die kykNET Buite-Ekspo het alles vir jou.
Dink aan die heel nuutste produkte in die buitelewe-, kampeer- en 4×4-wêreld wat tans beskikbaar is. Uitgestal in ‘n veilige plaasatmosfeer soos waar jy dit in die praktyk sal gebruik en ervaar.

Aktiwiteite
Daar is ook weer ‘n keur van produkte, aktiwiteite en vermaak vir die hele gesin.
Ry gratis saam met Maniac 4×4-ritte se ervare bestuurders in die spesiale vortuie op ‘n opwindende baan en ry ook gratis saam op André de Villiers se kykNET-hindernisbaan waar jy kan ervaar waartoe van die voertuie werklik in staat is.

Besoekers kan ook in betaalde helikopterrite saam met Mosselbaai Helikopters vlieg om ‘n “birds eye view” van die omgewing te kry.

Vermaak
Wat is ‘n groot buitelugkuiernaweek dan sonder top-vermaak?
Hierdie keer kan besoekers uitsien na ‘n naweek-program wat optredes insluit deur die kunstenaars Wicus van der Merwe, Veldblom, Andriëtte, Brandon Miles met sy orkes, Blackie Swart, David Fourie, Die Broers, Desmond Wells, Johan Liebenberg en Christo en Cobus.
Daar is ook ‘n nuwe toevoeging tot die program. Jimmy’s Sauces se Pot Vol Liefde wat ‘n paar maande gelede met groot sukses die eerste keer op Hartenbos gedoen is, kom nou ook Swartland toe.
Kyk hoe van kykNET se bekende gesigte potjiekos kook en dié heerlike maaltye dan as ‘n Sondagete aan hulpbehoewende instansies geskenk word.

Vir die kinders is daar ‘n ‘Inflatable’ Henties Vrugtesappe-pretpark en Liewe Heksie kom verras die Sondagoggend met een van haar treffervertonings.

Spyse
Die kunsmark met leefstylprodukte van hoë gehalte is jaarliks baie gewild by die vroue en vir die droë kele is daar ‘n wyntuin (met heerlike deli-produkte wat hierby pas), ‘n biertuin, gewilde ander koue verversings en natuurlik ‘n groot verskeidenheid feeskos deur van die beste verskaffers.
Onthou, die kern van die ekspo bly die uitmuntende buitelewe-, 4×4- en kampeeruitstallings – perfek vir elke buitelewegeesdriftige.

Oorslaap
Kampeer- en “glamping”-pakette is beskikbaar deur aanlyn te bespreek. Besoek gerus die webwerf by www.ekspo.co.za vir die inligting.
Besoekerkaartjies is ook reeds beskikbaar deur Open Tickets, https://www.ekspo.co.za/ons-gebeure/wes-kaap-moreson-plaas en ook by die hekke tydens die ekspo.
Probeer jou kaartjies aanlyn koop deur Open Tickets. Dit vergemaklik dinge by die hekke vir almal. Daar is dagbesoekertariewe en naweekpakkette beskikbaar.

Leave a Reply

error: Content is protected !!