Só lyk Swartland se waterverbruik; ‘Spaar vra SM’
Met ‘n relatief droë winter in 2025 en ‘n vroeë warmer somer, het waterverbruik in die Swartland en ook die Kaapse Metropool aansienlik gestyg.
Die Stad Kaapstad het onlangs ‘n beroep op inwoners gedoen om water spaarsamig te gebruik.
Die metropool se teikenverbruik is tans 975 miljoen liter per dag terwyl dit steeds meer as 1 000 miljoen liter per dag is.
Die vlak van die Wes-Kaap se grootste dam, die Theewaterskloofdam met ‘n kapasiteit van 479,3 miljoen m³ (kl), is vanoggend op 60.78% gemeet. Die ander vernaamste damme wat, soos Theewaterskloof en Voëlvlei, deel uitmaak van die Stad Kaapstad se waterbronne is die Bergrivierdam, die Wemmershoekdam en Bo-Steenbras en Onder-Steenbras. Die damme saam kan 898 miljoen m³ (kl) hou. Hul gesamentlike vlak is tans op 599 miljoen m³ (kl) of 66,7%.

Swartlandse dorpe kry hul drinkwater uit die Voëlvleidam (Abbotsdale, Chatsworth, Darling, Kalbaskraal, Malmesbury, Ongegund, Riebeek-Kasteel, Riebeek-Wes, Riverlands en Yzerfontein) en die Misverstanddam (Koringberg en Moorreesburg).
Dié twee damme se watervlak het vanoggend onderskeidelik op 74.14% en 97.61% gestaan.
Die vlakke was ‘n week gelede op 76.49% en 93.43% en ‘n maand gelede op 83.47% en 98.18%
Die kapasiteit van die Voëlvleidam is 158,6 miljoen m³ (kl) en dié van die Misverstanddam 5,7 miljoen m³ (kl).

Waterverbruik in die Swartland het die laaste sewe jaar aansienlik gestyg, nadat dit tydens die droogte tot 2018 aansienklik afgeneem het.
dié courant het by die Swartland Munisipaliteit navraag gedoen oor die situasie plaaslik en ook die planne om die Voëlvleidam se water uit die Bergrivier aan te vul.
“Alhoewel die damme en stelsels waaruit die Swartland water onttrek, nog nie krities laag is nie, sal dit alle inwoners baat om waterbesparingsmaatreëls as ‘n leefstyl toe te pas en nie net wanneer dit min reën nie,” sê Mart-Marié Haasbroek, woordvoerder van die munisipaliteit.
“Die realiteit is dat die hele streek ‘n droë winter ervaar het en dat ons onsself bevind in ‘n baie warm en vroeë somer. Oor die algemeen neem waterverbruik toe in die somer en ons kan sien hoe die voortslepende hitte waterverbruik beïnvloed.

“Inwoners word egter gemaan om hul waterverbruik aan te pas en nou reeds water te spaar en nie te wag tot noodmaatreëls weer ingestel moet word soos ‘n paar jaar gelede nie.”
Sy voeg by: “Die Swartland het gegroei oor die afgelope tien jaar en saam met dit het ons waterbehoeftes ook toegeneem. Swartland Munisipaliteit se toekenning uit die Voëlvlei- en Misverstanddamme saam is tans 9 473 600 m³/jaar.”
Gevra na planne om die water in die Voëlvlei aan te vul met ‘n aanvullingskema waar water van ‘n keerwal by Loreley uit die Bergrivier gepomp sal word: “Die Bergrivier/Voëlvlei-aanvullingskema (BRVAS) projek is in proses van implementering maar daar is wel vertragings wat verband hou met verkrygingsprosesse. Die nuutste datum van voltooiing in 2029. Swartland se toekenning uit die BRVAS sal na verwagting 1,66 miljoen m³/jaar wees.
“Water is ‘n beperkte hulpbron en alhoewel ons in ‘n streek bly wat histories baie reën gekry het, het klimaatsverandering ‘n wesenlike impak op wanneer en hoeveel reën ons elke seisoen te wagte kan wees. Daarom moet alle inwoners hul denkwyse en gebruik van water aanpas en water spaar deel van hul leefstyl maak. Om water te spaar is nie opsioneel nie, dit is ‘n noodsaaklikheid.”


dié courant het ook gevra na die statistiek van waterverbruik die afgelope 10 jaar.
Volgens die munisipaliteit se syfers was Swartlandse dorpe se totale verbruik vir verlede jaar (2025) 5 347 851 m³ (kl) uit die Voëlvleidam en 896 311 m³ (kl) uit die Misverstanddam.
Dit is onderskeidelik 4,92% en 6,29% meer as die syfers van die vorige jaar van 5 096 893 m³ (kl) en 843 260 m³ (kl).


Die gebruik uit die Misverstanddam was in 2025 aansienlik minder as in 2015 toe die syfer 943 777 m³ was, maar die verbruik het in die droogtetyd bykans gehalveer na 485 408 m³ (kl) in 2018.
Dit beteken ‘n toename die afgelope sewe jaar van 84,7% – ‘n gemiddelde van meer as 9%.
Die gebruik uit die Voëlvleidam (5 347 851 m³) was in 2025 aansienlik meer as in 2015 toe die syfer 5 082 039 m³ was, maar die Swartland se verbruik uit dié dam het in die droogtetyd skerp gedaal na 2 705 399 m³ (kl) in 2018.
Dit beteken ‘n toename die afgelope sewe jaar van 97,7% – ‘n gemiddelde van meer as 10%.

