Agri/BusinessLatest

Swartland vier 40j met splinternuwe ‘Swartland in a Box’

Die Swartland Wyn- en Olyfroete vier vanjaar sy 40ste bestaansjaar.
Van ‘n groot mate van onbekendheid in 1986 het die streek sedertdien gegroei met gereelde verskynings op die internasionale verhoog en ook ‘n Suid-Afrikaanse wynrevolusie gelei wat vandag nog wêreldwyd weergalm.
Om dié mylpaal van vier dekades te vier, is ‘n beperkte versameling wyne geselekteer vir die heel eerste twee van die splinternuwe Swartland in a Box-opsies (ses bottels elk) wat juis lig werp op die storie van die Swartland en die redes vir die sukses. Die kiste kan bestel word via die Swartland Wyn- en Olyfroete se webwerf.

“Ons is baie opgewonde om wynliefhebbers die geleentheid te bied om nie net wyne van die Swartland te verken nie, maar ook ons erfenis daarmee saam,” sê wynroetebestuurder Jolene Janse van Rensburg. “Elkeen van die twee opsies bevat uiteenlopende style en van uiteenlopende produsente. Baie van dié wyne is dikwels nie eens geredelik vir die plaaslike wynliefhebber beskikbaar nie.
“Hier is die geleentheid – deur ‘n enkele aankoop – om in die gemak van jou huis ‘n unieke oorsig van die streek te kry.”
Die Swartland Wyn- en Olyfroete is formeel in 1986 gestig en was een van Suid-Afrika se vroegste georganiseerde wynroetes. Destyds is die streek se wingerde egter wyd beskou as net goed genoeg vir grootmaat- en versterkte wyne. Die Swartland was toe ook nog nie bekend as ‘n streek wat kwaliteit olywe produseer nie.

Winter 2026 Kis 1

Veertig jaar later lyk sake heeltemal anders. Wynmakers wat die streek en sy grond wou verstaan en dit dienooreenkomstig wou bewerk, is beloon met wyne op ‘n volgende standaard. Hul sukses en entoesiasme het ‘n nuwe passie in ander aangewakker en gou is ‘n rewolusie, wat selfs in die land se mees tradisionele streke die aandag getrek het, gebore.
Sedert 1994 het Suid-Afrikaners ook ongekende toegang tot wyne van regoor die wêreld gekry en hulle het die uitstekende standaard wat deur Swartland-produsente behaal is, erken. ‘n Lojale aanhang is mettertyd gevestig.
Die bekendstelling van Swartland in a Box herdenk hierdie wonderlike reis en bied nie net ‘n geleentheid aan bestaande lojaliste van die Swartland nie, maar maak ook die deur oop vir enigiemand wat nog altyd daaroor nuuskierig was.
Elke kwartaal van die jaar sal die Swartland Wyn- en Olyfroete twee kiste vrystel, elk met ‘n vars keuse. Hierdie kiste is slegs in beperkte getalle beskikbaar en inligting oor elke vrystelling sal in die wynroete-nuusbrief en op sy aanlynkanale geadverteer word.

Winter 2026 Kis 2

Die Swartland in a Box-bekendstellingsaanbod
Kis 1 se prys is R1480 en dié van Kis 2 is R1640. Afleweringskoste is ingesluit (slegs binne die grense van SA).
Winter 2026 Kis 1 sluit die volgende ses wyne in: Winkelshoek Rooi Jerepigo 2023, ‘n versterkte wyn; Leeuwenkuil Heritage Syrah 2022; Thor Vintners Ronin 2023, ‘n droë rooiwyn; The Amos Block Sauvignon Blanc 2023; Hofstraat Barbera 2024 en Nativo Blanco 2021, ‘n alternatiewe witwyn.
Winter 2026 Kis 2 sluit die volgende ses wyne in: David & Nadia Aristargos 2024, ‘n droë witwyn; Swartland Kelder Limited Release Pinotage 2023; Kloovenburg Village Rosé 2025; Zwartwater Estate White Blend 2024; Brink Pinotage 2023 en Wightman & Sons Gloves Off Tinta Barocca 2023.
Vir meer inligting, besoek https://swartlandwineandolives.co.za/swartland-in-a-box/

Leave a Reply

error: Content is protected !!