LatestSports

‘Marais Erasmus – The Rock ‘n Roll Years’

Wanneer die TV-skeidsregter in ‘n krieketwedstryd sou vra dat die beeldmateriaal vorentoe en terug gerol word sodat hy seker kan maak van sy beslissing, dan sê hy: “Rock & Roll that for me, please.”
Een van die wêreld se bekendste krieketskeidsregters en vir jare ‘n inwoner van Malmesbury, Marais Erasmus, keer aanstaande week terug na Malmesbury om sy splinternuwe boek hier bekend te stel.
As die skeidsregter sou vra: “Rock & Roll that for me,” sou daardie betrokke video – dikwels van ‘n sekonde of twee – dan raam vir raam agtertoe en vorentoe gerol word, soms vir minute aaneen, om die televisieskeidsregter te help om presies te bepaal waar ‘n voet geland het, wat die bal wel (of nie) getref het of waar die bal was toe dit van die paaltjies gevlieg het.

Die uitgewers van Marais Erasmus – The Rock ‘n Roll Years skryf opsommend: “Erasmus is beslis daardie soort ‘rock ‘n roller‘. Nie die raserige tipe in leerbroeke en tatoeëermerke nie, maar sy bedaarde, half ouwêreldse geaardheid, en diep kennis en liefde vir die spel sou hom in enige era suksesvol in sy beroep gemaak het. Jy het hom op die veld sien stap en jy het geweet alles gaan reg wees. Bykans altyd, in elk geval … “
Erasmus is nie minder nie as drie keer as die wêreld se top-krieketskeidsregter aangewys. Hy het in sy jare as internasionale skeidsregter die wêreld gesien en van die gewilde en minder gewilde karakters van internasionale krieket van nader leer ken.
Die Marais Erasmus-storie – The Rock ‘n Roll Years – Cricket in an umpire’s orbit – gee ‘n kykie in die lewe van ‘n skeidsregter op die internasionale Elite-paneel van witjasse.
“Krieket in die wentelbaan van ‘n skeidsregter.”

“As jy ‘n prentjiewoordeboek van krieket sou skep en ‘n skeidsregter moes uitbeeld, kon jy maklik ‘n foto van Marais Erasmus kies.
“Een waar hy kenmerkend onwrikbaar kalm en in beheer voorkom – hoe druk en plofbaar die situasie ook al was.
“Die waarheid is meer en hierdie boek vertel jou hoekom. Ver weg van ‘n oënskynlik verwyderde en onbewuste besluitnemer. ‘n Natuurlike kalmte tel onder Erasmus se vele talente waarmee hy daardie gevoelens diep kon bêre en meer dikwels as nie die regte besluit kon neem.
“Jy word nie drie keer as wêreldkrieket se beste skeidsregter aangewys as jy nie weet wat jy doen nie.”

Sewentien hoofstukke met binnestories – deur en oor Erasmus. Van hoofseun in Hoërskool DF Malan in 1982 tot onderwyser – Geskiedenis en Aardrykskunde.
Intussen ook provinsiale rugby- en krieketspeler vir die Boland (nege seisoene vir die Wynboere se elftal) en toe ‘n professionele skeidsregter.
“Gelukkig stel Erasmus in meer as krieket belang. En so kom die woord ‘wentelbaan’ in die subtitel. Daar is die storie van ‘n skeepskompas by ‘n skeepsaftakelwerf in Chattogram, die vermoede van seksspeelgoed in sy bagasie in Dubai; wedstrydknoeiery, die pandemie en die handskud met ‘n werklike diktator.
“Lig word ook gewerp op die goeie werk wat deur skeidsregters onder die elite-vlak gedoen word. Hoe Australiërs tot die oortuiging gekom het dat 87 die ‘Duiwel se Nommer’ is, word onthul; die atmosfeer binne die Lord’s-eetkamer in die gespanne oomblikke nadat Alex Carey vir Jonny Bairstow in 2023 gestonk het.
“En dan was daar natuurlik die drama en nadraai van die 2019 manswêreldbekereindstryd.

Adèle en Marais Erasmus

“Dié boek vertel van die Marais Erasmus aan die ander kant van die grens, want krieket kan nie sonder skeidsregters gespeel word nie en skeidsregters het lewens wat veel verder strek as die spel.”
Medeskeidsregter Brad White sê (aangehaal uit die boek wat pas uitgereik is): “There are certain things you can’t teach an umpire. You either have it or you don’t.
“Marais Erasmus has the full package. He says he gets as nervous as anyone else, but it doesn’t show. He always looks calm and like he’s got everything under control. His whole life has been cricket….”
Die boek is uiteraard propvol krieket en krieketstatistiek – ook Erasmus se keuses vir ‘n internasionale toetselftal en eendagelftal en ‘n Suid-Afrikaanse elftal – maar daar is die mens Marais Erasmus en sy mense.
In nog ‘n uittreksel, skryf sy een seun, Geo: “… al hierdie dinge en al die herinneringe van regoor die krieketwêreld is wonderlik, maar ek dink die prestasie wat vir my uitstaan – en ek glo waarop my pa ook die heel trotsste sal wees – is dat hy die beste pa in die wêreld is!”

*Die boekbekendstelling op Malmesbury, Donderdag 25 Junie, is na die Freek Stander-sportsentrum by Hoërskool Swartland verskuif. 17:30 vir 18:00. RSVP teen 22 Junie by Adèle: 083 282 7696
Marais Erasmus – The Rock ‘n Roll Years is nou besikbaar by boekwinkels en by naledi – https://naledi.co.za/product/the-rock-n-roll-years/
Die skrywer van die boek is Telford Vice.
“Hy skryf sedert 1991 meestal oor sport vir groot Suid-Afrikaanse en internasionale publikasies. “Hy is een van slegs twee verslaggewers wat by Suid-Afrika se eerste Toets ná isolasie was – in Barbados in 1992 – en ook by die Wêreldtoetskampioenskapeindstryd tussen Suid-Afrika en Australië by Lord’s in 2025.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!