GU 2de ronde skop af met min skuiwe
Die eerste naweek in die tweede ronde van Boland Rugby se Grootuitdaagliga het min veranderinge op die Swartland se punteleer opgelewer.
Die enigste twee spanne wat ná Saterdag se reeks kragmetings ander posisies op die puntetabel beklee, is dié van Never Despair en Saron wat plekke op nommer sewe en agt omgeruil het.

Spairs het een posisie opgeskuif nadat hulle op hul tuisveld met 39-39 gelykop gespeel het teen Villagers Wittewater. Elkeen van die spanne het só drie ligapunte verdien. Laasgenoemde is steeds in die sesde posisie.
Die ligavoorlopers, Wesbank, het gereis en ‘n verwagte wegholsege oor Koringberg behaal. Die groot telling van 76-17 het gevolg op die allemintige loesing wat Koringberg in hul laaste wedstryd van die eerste ronde teen Abbotsdale op die lyf geloop het. Lillies het toe op hul tuisveld met 116-12 geseëvier. Wesbank het ook vroeg in die seisoen tuis ‘n wegholsege van 62-3 oor Koringberg behaal.
Met die groot sege van Saterdag het Wesbank nou ook vir die eerste keer die voortou geneem met betrekking tot punteverskil. Voor die naweek het Abbotsdale nog die toon aangegee met grootste punteverskil.

Riebeek-United (heel laaste op die punteleer) het Saterdag op hul tuisveld teen Lillies gespeel en die besoekers behoorlik laat skrik. United het met mening afgeskop en Abbotsdale (vierde op die puntetabel en nog sterk in die wedloop om weer in die Top 12 te speel) se oë behoorlik laat rek en hulle ‘n bietjie verras om in een stadium in die eerste helfte met 29-12 voor te loop. Wat aanvanklik gelyk het soos ‘n Abbotsdale-masjien wat nog aan die opwarm was, het toe eers op dreef gekom, op al sy silinders begin vuur en daarna was dit eenrigtingverkeer. Die tuisspan kon nie weer hul telbord verder laat rol nie en Lillies het 38 onbeantwoorde punte op hul kant van die telbord bygevoeg om die wedstryd met 50-29 te wen.
Die Melkboere van Darling, wat tans in die tweede posisie op die punteleer is, het op hul tuisveld teen Saron gespeel. Hulle het eerste lont geruik en agter die besoekers se doellyn gaan kuier. Saron het geantwoord met ‘n verdoelde drie en daarna het elke span weer hul in hul opponente se doelgebied gaan kuier voor die tuisspan finaal die voortou geneem het. Die Melkboere het die voorsprong stelselmatig gerek en uiteindelik met 41-22 geseëvier.
Porterville (derde op die punteleer) het op Riebeek-Wes teen Good Hopes (11de) te staan gekom en, soos verwag, die kragmeting gewen (39-20).

In die naweek se ander wedstryd het Moorreesburg na Mamre gereis (nadat die wedstrydveld in die eerste ronde omgeruil is). Die besoekers kon, soos in die eerste ronde toe hulle tuis met 10-22 teen Mamre vasgeval het, weer nie ‘n sege behaal nie. Mamre het die kragmeting oortuigend met 61-36 gewen.
Die komende naweek se kragmetings op die speellys (tuisspanne eerste) is:
Abbotsdale t Moorreesburg
Mamre t Darling
Porterville teen Never Despair
Saron teen Good Hopes
Villagers Wittewater teen Koringberg
Wesbank teen Riebeek United
